Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 321]
| |
'n Vos-bruin ryperd rond, my baas,
Wat om 'n dooie kampvuur dwaal,
En dit nie al, my baas; die saal
Staan by die vuurmaakplek, 'n jas,
'n Oorjas, baas, lê op die gras.
Die vuurmaakplek se as is koud,
Dis glo al anderhalf dag oud.
Die nagwind het dit plat geslaan.
My baas, ons het dit so laat staan
Vir baas om self te kom en kyk
Hoe snaaks dit by die kampplek lyk.
Die mense sê dit spook daar, baas
Op daardie ou Verlate Plaas.’
‘Verspotte stories, skepsels; net
Om julle bang te maak; ek wed
Die saak het glad 'n ander kleur,
En moontlik is daar iets gebeur.
'n Spook het mos nie jas en saal.
Ja, ek sal dadelik kom, loop haal
Die honde, Jan. 'n Ongeluk -
'n Ryperd wat hand uitgeruk
Die man beseer het...’
‘Baas, hy swerf
Gekniehalter daar op die werf.
En mak, my baas, so hondmak dat
'n Kind hom by die trens kan vat.
'n Mooi groot ryperd, bruin gekleur,
Maar van sy baas is niks te speur.’
‘So sê jy, Outa. Moontlik kry
Ons daardie perd se baas, en hy
Sal alles duidelik maak. Maar nou
Loop help vir kleinbaas Jan. Maak gou.
Span in; dis laat al; ons moet haas
Om voor namiddag nog die plaas
Te haal - dis drie uur vinnig ry
En nou-al twaalf. Kom, Jan. En jy -
Hoe heet jy, Outa?’
‘Kees, my baas
Ek is van oubaas Dirk se plaas.’
‘Nou goed. Klim op. Nee, vrou, ek vrees
Nie voor vannag, of later; wees
Gerus. Tot siens. Ja piets hul, Jan,
Die hotvoor perd - versigtig, man
Te vinnig is onveilig - vat,
(Dis korter, seun) die uitdraaipad.
Dis seker somaar weer verniet
Dat ons so haas. Dis puur verdriet
| |
[pagina 322]
| |
Om veldkornet te wees; jy swoeg
Jou in regeringsdiens doodmoeg.
En tog - nee, nou ek my besef
Onthou ek - koddig hoe dit tref,
Want dit was winter net soos nou
Met elke môre ryp gedou,
Ruim twintig jaar gelede; Thorp
Was destyds landdros op die dorp,
En Hay die hoofkonstabel; ek
Het pas na Kronkelvlei getrek -
Onkundig in regeringswerk,
Nie eens diaken van die kerk -
Eers later het hul my gekies
As veldkornet - die dorpspolies
het daardie jaar 'n nare taak
Gekry om uit te pluis; 'n saak
Van moord, wat vir 'n jaar of twee
Ons volop gissingsstof kon gee...’
‘Daarvan het ek gehoor - die moord
Van Piet van As op Papkuilspoort.’
‘Presies. Die plaas het so geheet -
Sinds het die volk die naam vergeet
En sê vandag maar in die haas
Verlaat, of die Verlate Plaas.
Dit het aan Teuns Tormyn behoort.
En Teuns was skuldig aan die moord -
Soveel staan vas en is bekend...’
‘Wat het geword van daardie vent?’
‘Van Teuns? Nee, niemand weet, ou seun.
Hy's spoorloos weg. Ons het gesteun -
Ons algar van die landdros af
Tot kleurlingspeurders op die draf
Het rondgesoek om Teuns te kry -
Verniet. Ekself het rondgery
Vir dae lank verniet. Ons dink
Hy't in die boonste drif verdrink
Maar sekerheid daaroor besit
Ons nog vandag nie. Altemit
Swerf hy nog êrens rond, geterg
Deur moordenaars swaar berou, wat verg
Van die met bloedbekladde siel
Vergelding, wat sy rus verniel.’
‘Is daar bewys dat Teuns die moord
Gepleeg het?’
| |
[pagina 323]
| |
‘Geen op ede-woord
Van ooggetuie nie; dit rym
Met wat 'n mens verwag; geheim
Word moord gepleeg; bewys ontbreek
Gewoonlik; wat verdag kon kweek
Was meer as een gebeurtenis
Waaroor ons net kon raai of gis.
Genoeg, as algar bymekaar
Geraap is, om 'n volle skaar
Aanwysende getuienis
Tesaam te bring, en daarop is
Die speurders uit op Teuns se spoor.
Hul het dit by die drif verloor.
Die jaar was die rivier so vol
Sy water het die veld oorrol.
Die houtbrug weggespoel - ek het
Nog nooit sinds ek as veldkornet
Ons suinige regering dien
Die Dwarsrivier so vol gesien.
Ons gis hy het probeer ontvlug
Die drif deur na die berg; die brug
Was toe reeds weggespoel...’
‘Dit klink
Asof hy skuldig was.’
‘Ons dink
Hy was dit ook. Jy weet die pad
Gaan vlak verby die seekoeigat
Hoe heet dit weer? Kees, sê vir my,
Jy ken die plek.’
‘My baas, dis hy
Wat ons noem Moormansgat.’
‘Juis. Daar
het ons 'n sleepsel-spoor gewaar
Wat oor die natgereënde sand
Gelei het tot die oorhang-rand
Van Moormansgat ... versigtig nou
Die afdraand is hier steil; te gou
Is soms te danig stadig; gee
Die perde bietjie blaastyd. Twee
Van Hay se speurders het die spoor
Gevolg, die hoë kliprand oor.
Die taak was moeilik, want jy gly
Daar maklik oor die rooigeel klei
En dit is baie steil en glad
Skaars wat 'n mens sou noem 'n pad -
Nie eens 'n voetpad nie; jy stap
| |
[pagina 324]
| |
Van klip tot klip en waar jy trap
Snags met die duister om jou rond,
Gewaar jy nie eens vaste grond.
Ons moes van kershout fakkels maak
Om lig te gee - 'n moeilik' taak,
En toe nog in die duisternis
Met doringdraad die water vis
Verniet, vereers, maar later vat
Die doringdraad iets in die gat.
Ons trek dit stadig uit - ons kyk,
Ons weet al wat dit is - die lyk...’
‘Maar pa het dan gesê, Tormyn
Het spoorloos na die moord verdwyn...’
‘Presies. Dit was Van As se lyk
Daar in die watergat. Dit blyk
Die moordenaar het hom by die wa
Geskiet en na die krans gedra
En daarvandaan hom afgestoot
Die water in, voor hy dood
En styf was - so ten minste het
Die dokter ons vertel; hy let
Op kleinighede wat miskien
'n Ander mens nie raak sal sien.
Gras tussen vingers toegeknyp
In die doodsworsteling vasgegryp -
En in die longpyp water ... Ja,
Die tekens het die lyk gedra
As ruim genoeg bewys: Van As
Het dood versuip. Eers later was
Ons alles duidelik...’
‘Maar hoekom
Het hulle juis gemik op hom...’
‘Op Teuns bedoel jy? Nee, ons wis
Van vyandskap en broedertwis
Tussen die twee. Die dag tevoor
Het Tielma, Teuns se kneg, gehoor
Hoe Teuns staan uitvaar teen neef Piet
En dreig dat hy hom dood sal skiet.
Hoor-sê getuienis? Juis, maar Jan,
Dit was nie enkel dit. Ek kan
Jou nou nie alles haarfyn sê,
En om dit alles uit te lê,
Ontbreek daar tyd voor. Glo vir my
Ons het genoeg bewys gekry
Veral met Teuns se vlug daarby.
(As jy onskuldig is, sal jy
| |
[pagina 325]
| |
Dan somaar trap?) dat net maar hy
Die moordenaar is, en voëlvry,
As iemand vry kan wees wat rou,
Is Teuns van dié dag af tot nou.’
‘Dis koddig dat hy spoorloos weg
Verdwyn het, Pa...’
‘Ja, Piet se kneg
Beweer hy leef nog, maar ek dink
Hy't in die vol rivier verdrink.
Teuns was 'n nukkerig' snaakse klant
Soos tontelbos gou aan die brand
En net so gou weer bloed-maat vrind,
Onnosel soos 'n skuldloos' kind
En dan weer jakkals-slim. Ek glo
Hy was nie altyd pluis hierbo.
Soms was hy halfpad-dood bedwelm
(Hy is gebore met die helm
En sulke mense is half-mal)
En het soms skielik flou geval
En daarna snaaks gepraat. Nog nou
Is daar genoeg wat dit onthou.
Jy, Kees, miskien...’
‘A ja, my baas
Baas Teuns kon regtig lekker raas
Ons swartvolk sê van waboombas
Hy maak, baas Teuns, die krimppaljas
Die sterkste toorgoed wat 'n mens
Tot in sy nier, my baas, laat grens.’
‘So. Dink jy so? Die sendingkerk
Het jou maar bitter min versterk
As jy aan sulke toordery
Nog glo; maar Outa, sê vir my
Wat dink jul swartvolk het gebeur
Met oubaas Teuns?’
‘My baas, die seur
Hy het mos wegverdwyn die jaar,
My baas, en vir 'n towenaar
Is dit mos maklik. Ja, my baas,
Dit spook op die Verlate Plaas.’
|
|