| |
| |
| |
Die Moormansgat
en Ander Verhalende en Natuurverse (1948)
| |
| |
Die Moormansgat
I
Waar die donker skaduwee van die rotsmassief
Van Tierkop oor die vlakte val
As die dalende son, op die see verlief,
Agter die hoë sandsteenwal
Verdwyn, en die lang bergskaduwee rek,
Langer en langer uitgestrek,
Oor die wye vlakte kleurgevlek,
Daar lê die blou-swart water wat
Bekend is as die Moormansgat.
Rotse omring dit, windverweerde
Tot snaakse gedaantes misvorm, verslyte
Sandsteenrotse, bont verkleur,
Met vlekke van geel en rooi gesmeerde
Bulte en holtes, kliprak en skeur;
Skurftes, gelyktes, uitgebyte
Vensters waaragter die blou lug skyn,
Blouer as bo, en op middernag
'n Skitterende ster, wat afgesny
Van sy sterremaats deur die skerp kliplyn
Van die vensterraam, met voller prag
Fonkel en glans soos 'n bloedrobyn
Aan 'n heiden-afgod toegewy.
Die bergstroom voed dit; uit die kloof
Van bo die krans waar klimop krul,
Waar snags die dwalende bergtier brul
En die das oordags op die kliprand speel,
En die weelderige geil-groen varingloof
Die glibberige moddergelyktes dek
Met ruigte deur die nat verwek,
Daar val die berg se water neer
In 'n waterval, waarvan die geel
Verlepte skuim op die klippe weer
Verwasem waar die son dit streel.
Die water van die waterval
Soek koers na onder en dit gly
Die ruite-varinggroen verby,
Die helling af, die ritgras deur
Tot onder in die bosryk dal
Waar die oliewenhout se geur
Gemeng word met ruikofferande
Gesprei deur tulp en gousblomlande,
| |
| |
Totdat dit, van beweging sat,
Sy rusplek vind in Moormansgat.
Die donker rus daar; skaars 'n straal
Van die besielende son kry kans
Om oor die hoë rotsklipskans
Die watervlakte te behaal.
Net maar die sterre op middernag
Kyk, soos Narcissus, trots gesind
Op die skitterbeelde van hul prag
Wat die roerlose gelykte gee,
Die spieël waarin die aanskouer vind
Weerkaatsing van sy eie skoon
Van prag, wat in sy skitter troon.
Die maan bestraal dit; skemerdons,
Die sag swart-groen wat soos 'n sluier
Oor die wêreld val as die naguil kuier
Met sierlike vlerkgeswaai wat gons
Soos wind deur 'n bewende wilgertak,
Hang bo en oor die watervlak
Waarop die maanlig met silwer, wat lewe,
Prentjies maak van lig wat bewe,
Op en af as die water die wind
Probeer te vang soos 'n spelende kind.
Die môreson straal bo die môre ryp
Met gierige hande probeer te gryp.
Die wind verstoor dit, dag en nag,
Die Oostewind met woeste nyd
En die sagte Suidewind, sagter sag
As 'n strelende hand van tederheid,
Die koel klam Westewind wat waai
Van die duine af oor die ope baai
En die warm bedompige Noordewind,
Wat die dor woestyn van die Noordeland
Oorwaai het en die droë sand
Van waterlose panne paai;
En die doornboom-bloeiselgoud verslind
In 'n stofwaas, wat met warreldraai
'n Sandsuil in die lug wil bou,
Oor 'n veld gehul in sy somersrou...
Eensaam, alleen, verlate, vry
So vry soos 'n man wat geen vyand of vrind
Besit en sy vryheid te eensaam vind
Om daarin genot of plesier te kry,
Lê Moormansgat daar rotsomring,
Sy kante versier met fluitjiesriet
Wat tingerige stengels boontoe skiet -
| |
| |
Stengels waarop geen vinke sing,
Waaraan geen swaaiende nessies hang
Geskud deur die wind, maar wat eensaam bloei
Met hul verekuif deur die wind gesnoei.
Wie Moormansgat vir die eerste maal
In sy donkere eensaamheid sien, staan stil
Verwonderd, verras, en teen sy wil
Verskrik deur die sombere, duistere krag
Van die watergat op helder dag
As die sterke, glinster-sonnestraal
Wat elders die veld doen glimlag hier
Net maar sy wrede krag versier,
En die onderste donker donkerder
Deur die boonste lig van son of ster,
Op helder dag of middernag
Gemaak word. Niks is daar wat lag,
En niks wat aan genot laat dink;
En die skoonheid van die watervlak
Wat rimpelloos in die donker blink
Met net die weerkaatsing van die lig
Van die pragtige golwende sterredak,
Is die skoonheid van 'n dooi gesig.
Want skoon is Moormansgat met die skyn
Van sy donker dieptes riet-omsoom,
Ruig fluitjiesriet wat ritsel en bewe
As die aandwind oor die water swewe
En die volmaan, geel gekleur soos room,
En sy sagte lig in die gat laat sterwe
Opgesuip deur die donker daar;
Sy sagte lig wat veld en vlei
Bergrand en bergkloof, koppie en krans
Bestraal met sy wonderlik' volmaanglans
Glorie van silwerskyn ge-erwe
Van die middagson wat genoeg kan spaar
Van sy lig vir die maan om lig te kry.
Ja skoon is Moormansgat, so skoon
Soos 'n dooie lyk wat in vrede rus
Deur die alles versagtende Dood gesus
Deur die heerlikheid van die Dood gekroon;
Skoon soos 'n onweerswolk, belaai
Met spierwit hael en die blits se goud,
Purperswart met 'n grysvaal rand;
Skoon soos 'n skaduryk donker woud
Waar die hoë boomstamme met mos besaai,
Gewelfde laning en suilgang maak;
Skoon soos 'n mensverlate land
| |
| |
Lang van lewe en groen versaak
Deur die vurige lawa verskroei, verbrand,
En sy vrugbaar grond geskeur, gekraak.
'n Moordgeskiedenis, lang geleë,
Het Moormansgat sy naam gegee.
Die plaas was toe bewoon, 'n plek
Met tuin en vrugboomgaard bedek;
Die saailand jaarliks omgeploeg,
Die klipmuurkrale groot genoeg
Vir kuddes vee, wat op die vlei
En vlakte ruim bestaan kon kry.
Die woonhuis, half van lig ontroof
Deur die oorskaduwende eikeloof
Van akkerbome deur ouderdom
Geknoes en deur die wind gekrom,
Was nog 'n sieraad vir die plaas
Van Papkuilspoort. Vandag, helaas,
Bly van sy glorie niks meer oor.
Die watermeul se watervoor
Is dik oorgroei met varkblomblaar
En tyd het huis nog tuin gespaar
Van wreed verval wat niks ontsien
En net tot afskrik voorbeeld dien.
Ruim twintig jare gaan verby,
Leeg staan die huis; die pleisterklei
Val handbree stukke van die muur
En in die ongebruikte skuur
Vind vlermuis en die nooiens-uil
In vrede ongestoord 'n skuil.
Verlate en verwoes die plaas
Gerinneweer en sonder baas.
En treurig skoon, soos een wat ly,
Die hoog met gras oorgroeide vlei
En hy wat langs die wapad gaan
Kan as die volle silwermaan
Sy bleek verligting oor die wrak
Van windverweerde rietgrasdak
En oor die stukkende gewels sprei,
Sy hart ontlas van medely.
|
|