Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Ons tuinier Outa Abjatar is ons tuinier, Hy werk daar bo langs die watervoor. Ons water kom uit die dorpsrivier In 'n groot klipsloot met 'n brug daaroor. Outa Abjatar hy plant en saai, Hy spit en hy dol en hy sê: ‘Ou Seur, Die tuin is my trots en ek hou dit fraai, Eksie-perfeksie die heel jaar deur.’ Outa Abjatar is ouderling In die bo-lokasie se sendingkerk, Hy gaan vanjaar na die sendingring In sy swart manel vir sendingwerk. Op weeksdae werk hy as ons tuinier Met groente plant en met water lei, Want tuinmaak, dit is sy groot plesier - ‘Puur genot, Ou Seur,’ sê hy. Pampoen en wortels geel en rooi, En prei en knoflok en jong ajuin - Dit alles groei so geil en mooi In ons windmaker-groentetuin. En outa Abjatar kyk daarna Net asof dit sy kinders is. Maar as jy die Outa om groente vra, Dan moet jy amper met Outa twis. Dit maak hom hartseer om spanspek, Of selfs tamaties, af te sny, Sy mooie wortels uit te trek, Laat vir hom amper die stuipe kry. Vorige Volgende