Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die kwarteltjies Kwarteltjies, net uit die eiers gebroei, Soek skaduwee teen die son wat skroei Onder die koring al klaar gegroei. Kwarteltjies jakker die hele dag lank, Piep met plesier hulle môregesang, Ywerig besig met goggatjies vang. Kwarteltjies hoor hulle Oupas verklaar: ‘Kinders, die winter kom gou hierdie jaar - Ons het die ryp in die lug reeds gewaar.’ Kwarteltjies luister nuuskierig. ‘Ons gaan Hierdie jaar trek nog voor die volmaan. Wie nie kan vlieg, moet bly steek in die graan.’ Kwarteltjies bewe van angs om te hoor: ‘Duisende, duisende myle lê voor; Julle moet hoë, steil bergreekse oor.’ Kwarteltjies oefen dag-uit en dag-in Hoe om te vlieg; daar's 'n prys om te win. Vliegklasse moet nou met dagbreek begin. Kwarteltjies staan op 'n goeie dag daar Onder die koring se skaduwee geskaar, Elkeen die klas deur, vir trek kant en klaar. [pagina 311] [p. 311] Kwarteltjies vlieg in 'n swerm deur die lug Noord-toe, al noord-toe, maar kwarteltjies sug: ‘Kom ons ooit weer na ons koringland t'rug?’ Vorige Volgende