Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die Slamaierwinkel Daar's 'n ewige rintinkel in die ou Slamaierwinkel, Waar die tameletjies en groenvye stik; Want die reuk van knoflokknolle meng met dié van kanferbolle, En daar's rooi saffraan en bokkoms in 'n blik. Dis 'n deurmekaar ophoping, uitgesprei hier vir verkoping, En ou Abdoel troon die toonbank agteroor. As ek dink, dan tril die snare van my vroeë kinderjare, En dit klink vir my asof ek Abdoel hoor As hy sedig heen en weer gaan, en die kopers daar te keer gaan - ‘Trippens suiker, sikspens skoon kanariesaad.’ Ja, ek sien hom met sy moesie, hoe hy vinnig die kardoesie Vul met wat hy voor gevra word, as hy praat: ‘Ag, vandag is onplesierig, want die mense is so gierig - Vir 'n sikspens wil hul twintig vye hê; Dis 'n alte hoë rente, ons is netnou insolvente; Ek kan net so goed bankrot speel en gaan lê.’ [pagina 310] [p. 310] En dan hoor ek weer oom Bennie as hy sê: ‘Abdoel, ek ken nie 'n Slamaier wat so skatryk is as jy. Jy het, hoor ek, 'n verband op 'n plaas daar langs die strand En 'n spogkar met twee perde nog daarby. Wil jy nou vir ons kom wysmaak dat die lewe vir jou grys maak? Nee, vir jou is dit so lekker soos pampoen. Dis maar net die arme boer wat nou nie eens met sy roer 'n Bestaan kan maak nie, wat hy ook mag doen.’ Ag, ek hoor die goed rintinkel in die ou Slamaierwinkel; Ek kan amper proe hoe soet die vye smaak. En die mengelmoes van geure en van rooibont kopdoekkleure Is genoeg om iemand amper mal te maak. Maar dit is maar droomgesigte, wat verlig word deur die ligte Van die sterretjies wat waghou oor die see; Want ou Abdoel is mos dood en sy kinders algar groot - En daar's niemand wat my nou groenvye gee. Vorige Volgende