Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 309] [p. 309] Ai' Koenie Ai' Koenie, ons kokmeid, maak pannekoekpap Alle Maandagaande van melk en van meel. Ons kinders kom kyk, want dit is mos 'n grap Om later weer pannekoekbakker te speel. Vir melk neem mens kou' water uit die kalbas; Ons meel is die wit sand wat lê waar hul bou; Die pan 'n pampoenblaar - dit kom net van pas, Sy stingel is handvatsel om aan te hou; Ons vuurherd die groot klip hier agter die huis; Ons brandhout die strooi van die ou uitspanplek. Nou bak ons die pannekoek - hier's dit konsuis; En Kees kan die pan van pampoenblaar maar lek. Ai' Koenie se pannekoek eet ons met lus (Natuurlik met moskonfyt soms, of kaneel); Ons sand-water-pannekoek kan ons gerus Hier agter laat bly vir die spreeus om te steel. Dit is nie die eet daarvan wat ons van hou, Maar net die gedoente hoe om dit te maak. Dis lekker, konsuis, om te bak en te brou, Al het ook die baksel en brousel geen smaak. Vorige Volgende