Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die vinkskool Elke vink moet skool-toe gaan Om te leer om nes te bou; Om te leer om noot te hou As hul kwetter-oefening het. Dis nie alles pure pret: Elkeen moet sy standerd deur. Vliegles eers, om vlerk te slaan, Van 'n tak af af te spring, In die blou lug op te beur, Saam te vlieg in lyn en kring, Stokalleen op eie vlerk. Glo vir my, dis harde werk Oor 'n wye rivier te stryk, Duiselend is dit af te kyk - Maar dit moet, hoe ook jy skrik, Anders word jy seer gepik, Anders word jy nie volleerd nie, Deur jou maters nie geëer nie, Anders word jy gekortwiek In die vinkskool se matriek. Vorige Volgende