Die ou likkewaan
Jare gelede, jare gelede,
Voor daar nog mense op aarde was,
Het bo in die Boland gelewe, tevrede
Met wat hy kon kry uit die ruigte-gras,
Met wat hy kon vang in die Boland-see,
(Want daar was genoeg om hom kos te gee)
En sy aller-eersteklas soort bestaan,
'n Koddige, yslike groot likkewaan.
Hy was so lank dat hy skaars kon omdraai,
(Wou hy dit doen, moes hy eers half krom draai.)
Hy was so vet dat hy skaars kon draf,
So danig hees dat hy skaars kon blaf;
(Want destyds kon elke likkewaan
Blaf, soos 'n hond wat teen die maan
Spoke sien opkom, hand aan hand,
Soos robbe wat opklim na die strand.)
| |
Die dik, vet, koddige reus-likkewaan
Het op 'n dag aan die kant gestaan
Van die groot mooi swart-blou Boland-see,
Wat ons nou die Karoo noem en waar die vee
Skaapbossies vreet as hul kos wil hê;
Hy het daar gestaan, of liewer gelê,
Want hy was te vet en te lui om orent
Te staan as hy plat kon lê, die vent.
Toe het daar 'n krokodil gekom,
Sy stert was reguit, sy bene krom,
Sy vel so stekelig soos doringbosse,
Sy lyf so lank soos 'n lang span osse,
Sy tong so groot soos 'n sesvoet man
En sy eetlus groter as joue, Jan.
Hy was verlief op die likkewaan
En het vlak agter hom stil bly staan.
‘Dis net 'n lekker agtuur,’ sê hy,
‘Hierdie koddige vet Oom Liks, vir my.
Maar hy's te gevaarlik om mee te veg,
En my agter-voortande is algar sleg,
Ek kan nie meer vasbyt soos in my fleur nie,
Ek sal mooipraat dat hy niks bespeur nie.’
Die slim krokodil het toe mooigepraat,
Net soos 'n vriend met sy beste maat.
Dis ‘Oompie’ agter, ‘Oom Liksie’ voor -
Flikflooi soos dit het jy nooit gehoor.
En alles maar net om die likkewaan
Te kry om die water in te gaan.
Want dit was die krokodil se plan -
Hy kon mos nie swem nie, net soos Jan.
‘Oom Liksie, die water is eersteklas,
En dit is hoog tyd dat Oom hom was.
Oom weet tog as Oom nie baai nie, kry
Oom maklik pyn in die regtersy.
En dan word Oom later swak en siek
En gepla in die stert met die rumatiek.’
‘Ek was nie van plan nie,’ sê Likkewaan,
‘Op my nugtermaag in die see te gaan.’
‘Dit maak nie saak nie,’ sê Krokodil,
‘Oom kan dit waag, as Oom net wil.’
Nou kort en goed, hy het ingekruip
En vasgesteek en toe versuip.
| |