Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 305]
| |
Van al ons trop - en ons het meer
As dertig op ons plaas -
Is daar geeneen wat hom kan keer,
Want Blaasbalk is die baas.
Die wyfies volg hom in 'n ry,
Kloe-kloe-kloe agteraan
As hy hul uitneem om te wei
Daar agter by die laan.
Die mannetjies moet stroopsoet doen
Net wat die ou beveel,
Want Blaasbalk is ons baas-kalkoen
Wat nie met hom laat speel.
Maar gister hoor ons tot ons spyt,
(Ons het dit nooit verwag)
Dis net 'n week voor Kersfeestyd:
Ou Blaasbalk word geslag.
Ja, ai Katryn, ons kok, sy kry
Al wors en dadels klaar,
Broodkrummels, salie, spesery -
Dis alles bymekaar,
Met uie fyngekap, volop,
En neute uit die laai,
Vir vulsel om die ou te stop
Voordat sy hom gaan braai.
|
|