Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 302]
| |
Hul woon, jy weet, diep in die wit van kelke van die varkblom, waar
Hul met bleek, blinkoog-paddatjies so hondmak soos 'n hanslam speel,
In baadjies van blou spinnerak en broekies van bont kawelgaar,
So fyn gerafel dat dit voel soos egte, sagte dons-ferweel.
Hul is die skuuste volkie, hoor, so skrikkerig soos 'n langstert-muis,
En trots omdat hul weet hul weet veel meer as ons grootmense weet.
Dis daarom dat dit moeilik is, behalwe soms so per abuis,
Om een van hulle raak te sien - iets wat jy dan ook nooit vergeet.
Maar op 'n mooi warm somerdag soos hierdie, as die suring sprei
Sy pragtapyte oor die vlak en klossies in die ruigte pryk,
Dan draf die klein kaboutertjies in klompies oor na Zeekoevlei,
Om net soos ons daar lug te skep en na die rooi flamink te kyk.
Dan in die lang groen ruigtegras kerjakker in die son se skyn
Die dwergietrop tot middag toe, en dans en gaan te keer in kring;
Die een speel koning op sy troon, 'n ander een speel harlekyn,
En rondom sit hul matertjies, 'n bontgekleurde koor, en sing.
Dus, as ons nou vandag daarheen met brood en koek en koffie gaan,
En piekniek hou daar op die gras skuins oor eerwaarde hamerkop,
Dan is daar kans ('n mens weet nooit) dat as ons regtig tjoepstil staan,
Ons moontlik met geluk sal sien die bontgekleurde dwergietrop.
Ons moet natuurlik skuiling soek, en elkeen moet net saggies praat;
Mondfluitjies moet ons nie laat fluit, klein Roelf se rekker mag nie skiet;
Oom Gert moet ook sy verkyker (wat tog vir so iets niks sal baat)
Maar wegsteek in sy jassak, anders staan ons hier te kyk verniet.
Ja, as ons net versigtig is en oplet en verbeelding het
(Daarsonder kry jy niks te sien, al loop 'n spook jou vlak verby),
Dan sal ons, as die kans ons tref, iets merk van die kabouterpret,
En as ons terugkom, sal ons weet die kleingoed boer op Zeekoevlei.
|
|