Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die wêreld Die wêreld is so wonderlik, jy kan jou skaars verbeel Hoe werklik koddig dat dit is, as jy nie eers verstaan Dat Pa se plaas en hierdie grond waarop ons kinders speel, Nie plat gelyk is, soos dit lyk, maar rond net soos die maan. Dis soos 'n bloukorhaan se eier of 'n lemoen so rond, Maar, ai, so groot, dit lyk vir jou dis oral net maar plat. 'n Vierde van sy boonste skil is harde, vaste grond, 'n Korsie oor die binneste van klip, of wie weet wat. En wat dan oorbly, is net see, soutwater, blou en groen, Wat deuskant van ons duine lê en opspoel oor die strand. (Dit hoort aan die regering glo, maar wat hy daarmee doen, Of wat hy eintlik daaruit wen, is bowe my verstand.) En net so snaaks lyk dit vir my dat al die water bly Net waar dit is, al draai ons rondomtalie om die son, Of dat die mense onder ons nie aldag afdraand gly, As hulle kop-na-onder loop soos vlieë op ons plafon. Ja, glo vir my, ons wêreld is 'n wonderlike iets. Ek ken dit taamlik op die kaart, maar later gaan ek kyk, (Ek spaar alreeds my geldjies vir 'n tweedehandse fiets) Hoe werklik daardie anderkant van ons ou wêreld lyk. Vorige Volgende