Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 299]
| |
Maar net soos my mammie die knoppie
hier bo my bed afdraai, dan boor
sy gonserige geluid 'n galoppie
van nare gedreun in my oor.
Hy glip langs my neus, oor my hare,
my voorkop verby, teen my wang.
Maar wag: ‘Hou jou klaar vir 'n nare
vergelding sodra ek jou vang.’
Geduldig verdra ek sy têre;
hy's vlak by my oog aan die soek.
Netnou sal hy sit, en ek bêre
hier onder die deken my doek.
'n Klap! Nee, hy's wrintig te vinnig,
of ek is te stadig vir hom.
Hy's weer aan die gons, en ligsinnig
genoeg is hy weer aan die kom.
Wag, nou's hy aan kruis oor my vinger,
'n vliegtuig wat netnou sal land;
dan kry ek 'n kans en ek slinger
my doek soos die blits oor my hand.
Daar het jy dit nou - jou verdiende,
regverdige loontjie, muskiet!
Jy kon mos gerus vir jou vriende
gaan sing het jou gonserige lied.
Hoekom moet jy my dan kom kwaad maak
as ek in die donker wil slaap?
Jy kon mos, muskiet, daarop staat maak
dat ek jou geniepsig sal slaan.
Nou het jy dit ... Ag, hier's 'n tweede
wat weer met sy gons my kom pla.
Die goed laat 'n mens nooit in vrede.
Ek moet nou weer klap en gaan ja.
Nee, wrintig, ek hensop nou. Reken,
jy wen, jou geniepsige dier.
My kop trek ek onder my deken -
gons nou vir jou eie plesier.
|
|