Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XIII Gee vir my boegoe, en kanniedood-blare, En die reënboog-skuim van die huilende see Wat saans, verlig deur die sterreskare, Sy klaaglied luid aan die wêreld skree - Droë, verdorde kanniedood-blare, Soos die Boesman bemin en die Kaffer prys, En krulblaar-boegoe met hardbruin are En bloeisels wat bo na die blou lug wys, En skuim wat sterf Eer sy water erf Die reënboog-kleur wat die branders verf - En ek maak daaruit, uit die drie tesame, 'n Tower-paljas wat sy krag behou As die wind saans ruk teen die huis se rame, En die winter kom met sy ryp en kou - 'n Tower-paljas waar die towery Alles vergoed wat 'n mens kan kry Deur sonde en smart en te veel berou Oor wat hy van dae vergaan onthou. Kanniedood, boegoe en skuim van die see, Gee my dié drie vir my tower-paljas, En ek traak nie hoe klaend die seewind skree, Of hoe verwaarloos die lewe was. Gee vir my boegoe en kanniedood-blare, En die reënboog-skuim van die klaende see, En ek slaap gerus onder sterreskare, Sekuur beskerm in my sielevree. Vorige Volgende