Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XII 'n Kloof- en krans-omringde dal Waar skaars die son se skynsel val En dagdeur donker skaduwees gee - Groen-grys, deurskynend, soos die see Diep in sy brander hou, voordat Hy krom van kleur tot seeskuim spat; En waar die nag se duisternis Met tyd-verlepte kranse twis Om rotssteen rooi en klipmos geel [pagina 289] [p. 289] Te sluier met sy groen ferweel, Terwyl planeet en sterreskaar Omhoog hul glorie openbaar - Dit is die plek! Die voorgeslag Het hierdie donkergroen se prag Aanskou, bewonder en besing In daardie woordloos lied wat dring Deur elke siel wat skoonheid eer En vrede vir sy hart begeer. Want hier woon vrede ewigdeur; Die stilte wat in klowe treur; Die eensaamheid wat liefde wek En krag uit wat hy meedeel, trek; Die sorgeloos allenigheid Wat ewigdeur bestaan, bereid Om op sy eie krag te steun, En op sy eie siel te leun ... Vorige Volgende