Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 288]
| |
- Net soos 'n man wat, blind,
Sy vingers dwing om wat sy oog versaak
Geduldig aan te vat -
Ek het nog steeds 'n skat
Wat boosheid, hoe hy ook mag terg of kwel,
Of hoe hy pla, on-eêl,
Nooit van my weg kan steel
Of my ontneem deur pure kurangspel.
Ek het nog, waar ek kyk,
'n Wêreld pragtig ryk
Aan skoonheid wat, solank my lewe rek,
Solank ek nog geniet
Wat skoonheid vir my bied,
In smart en treur nog troos kan skep en wek.
As ‘boosheyt dubbel boos’
My bitter moedeloos
En ongeduldig met die mensdom maak,
Dan vlei ek my ek vind
My troos, my trots, my vrind,
In skoonheid wat tot in my siel kan raak.
|
|