Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende IX Vreugdegeskal Van die vinkekoor by die dam, En die solo-gefluit van die eikeboomstam Waar die houtkapper hamer, eentonig, alleen; Vreugdegeskal, En die son wat die wêreld bestraal soos 'n seën, Met goud wat val Oor die tuin met die teer-groen van mielies versier, Oor die donkergrys blaar van die wit poplier, Oor die rankende wynstok bo die prieel, Oor die gruis van die voetpad, goud-geel - En nêrens 'n asem van wind in die lug Wat die varings laat sidder daar onder die wal, Waar die tuinsloot 'n bamboes-geraamte van brug Aan die wêreld vertoon, om te wys wat hy was In sy blinkende jeug, nou al lankal vergaan; Vreugdegeskal, en 'n vrede Wat op alles sy stempel gedruk het en lag As die voorjaar in skoonheid deemoedig bly wag Op die najaar se aftog, die winter se ryp - Wat die weelde en kleur wat nog oorbly, sal gryp - Sodat vinke wat sing en die son wat vergoud, As die jammertyd kom en die skoonheid veroud, Met genot kan herdenk die verlede - Met genot wat 'n troos in die treur kan verleen, As herinnering kan spog met die prag wat voorheen Oor die wêreld gesweef het, en oweral Die vreugdegeskal Van dié wat geniet, en genietend waardeer, Gestort het weleer. Vorige Volgende