Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende V As ouderdom, wat alles breek, sy volmag oor my kry, Dan gaan ek na die Hantam, waar ek hoort, En dra deemoedig wat 'n mens van ouderdom moet ly, Voordat hy aanklop by die hemelpoort. Dit lyk vir my die Hantam is die vredevolste plek Hier onder op die wêreld wat ons het! Hoe lank die somerdae daar hul warm goud-sonskyn rek! Hoe jubel daar die vinke in hul pret! Hoe skitter daar die voorjaarsprag in kleure honderdtal! Hoe verf die najaar berge met sy bruin! En, in die koue wintertyd, hoe raas die waterval, En blink kapok op elke berg se kruin! Die wildebok, wat voel sy krag verminder as hy stry, Soek rustyd in die skuiltes van sy soort. As ouderdom, wat alles breek, 'n houvas op my kry, Dan vlug ek na die Hantam, waar ek hoort. Vorige Volgende