Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende IV Sonstrale op die nat veldsand, Veelkleurge surings op die land, Gousblomme oor die gras versprei, En wateruintjies op die vlei, Suurknolle in die bot, die bome Nog blaarloos, en die bergkloof-strome Nog troebel met die modderklei, En bo 'n blou lug uitgesprei; So kom die lente op sy tyd - Ná winterwit se wanhoopstryd Teen wat die son se goud kan bring - Om van sy wintermag te dwing [pagina 285] [p. 285] Die rus van wat in kiem en saad Verskuil lê, voor die dageraad Van lewe aanbreek en die land Hom sier, en elke leegte en rant In weelde bloei, met wierook spog, Met geure van die lewensvog Wat, deur wat lewe liefhet, loop Eer môredou die weiland doop, En uit sy koue winterroes Die wêreld wakker skud vir oes. Vorige Volgende