Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 283] [p. 283] Slampamperliedjies I Wys my die plek waar ons saam gestaan het, Eens, toe jy myne was - Vroeër, voor jou liefde vir my getaan het, Vroeër, toe jy myne was. Kyk, dis dieselfde; die silwer see Blink in die sonskyn, soos lang verlee Dit eenmaal geblink het, 'n welkomsgroet Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed. Wys my die plek waar ons saam gekniel het, Eens, toe jy myne was - Vroeër, toe een siel vir ons saam besiel het, Vroeër, toe jy myne was. Kyk, dis dieselfde; die hemel, blou, Lag soos voorheen op my en op jou; Dit skitter nog altyd 'n welkomsgroet Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed. Wys my die plek waar ons saam geloop het, Eens, toe jy myne was - Vroeër, toe ons harte so veel gehoop het, Vroeër, toe jy myne was. Kyk, dis dieselfde! Net jy nie. Vra, Wie van ons twee moet die meeste dra? Jy wat vergeet het - of ek wat boet Vir my liefde wat uithou en alles vergoed? Vorige Volgende