Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 282] [p. 282] Die trekvoël Die oorgeërfde swerwersgees, die ingebore drang Na ruimer, wyer vlerkswaai-plek, waar elke rietryk vlei Die somerson se suiwer straal op strand en water vang, Besiel hom as hy suidwaarts koers en op die winde gly, Van waar die ouer wêreld wag: Die winter met sy wit ryp-drag, Die kou met koue doodmaak-mag, Die najaar se verlengde nag, En met die powere oorskietprag Van afgeleefde somerlag, Na nuwer, ryker, ruimer veld, nog klam van winterreën; Na waar die helder voorjaar wink, en heel die wêreld vry Met lig en warmte, goud en kleur - Natuur se gulste seën - En elke boom en bos en blaar sy lewensgroen weer kry; Na waar op elke grasgroen sooi Die nuwe surings wierook strooi En pryk met pers en geel en rooi Nog mooier as die lug, wat mooi Die kleur probeer te steel as prooi Vir dagbreek, pronkrig uitgetooi. Vorige Volgende