Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 281] [p. 281] Bosveldlied Ek sal vir jou gee: Sneeuwit skuim van die treurende see, Wit en donserig soos wilde katoen, Wie se spierbleek bolle die bos versier Met 'n skyn op die kelke soos perlemoen, En pikswart saad soos 'n swart saffier, Fyn soos vlokkies van dun kapok Wat die wegskuif-gees van die winde lok, Asof hulle fluister: ‘Kom, abba ons voort, Hoog oor die struikgewas, deur die poort, Anderkant toe waar die son nog skyn En die kranse kleur met die kleur van wyn!’ - Wit soos die witste marmerkalk, Suiwerder wit as die veredrag Onder die vlerk van die spikkel-valk, Suiwerder wit as die maan by dag! Ek sal vir jou gee: Tinte en kleure van stryd en vree - Purper wat blink in die kelkiewyn - Bontste rooi van die bloed-robyn, Rooi soos die rooi van die oorlogster Wat sonder 'n skitter daar myle ver Staan kyk op die wêreld hier! Geel sal ek gee, en gevlekte goud Van gousblomme geil wat my kroon versier, En boonop kleure 'n honderdvoud: Geilste nuut-bobbejaantjie-blou, Glinster-groen van die mannetjiepou, Ja, die sewe reënboogkleure-prag, En die diep seewater se spog-smarag! Verlang jy nog meer? Die donker-swart van die dreigende weer - Die bliksemstraal se blink - die breek Van 'n klomp reënwolke deur lig gesteek - Die pers en die perlemoen-pronk van die son Met sy eerste straal teen die grys plafon Op 'n somermôre, van oor die rant Van die hoogste punt in die Bosveldland - Die groen van die nag in sy skemerprag - Die vlammende vuur van die komende dag - Die glorie-rooi as die son gaan daal Agter my vlaktes, dor en kaal, Wat wisselende, kleur-akkoorde gee - Dit alles en meer sal ek vir jou gee! Vorige Volgende