Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die kronkelpad van Kanniedood Die kronkelpad van Kanniedood loop deur die biesiesvlei, En oor die bult waar, bont gekleur, die seeroogblomme bloei; Dit kronkel langs die mielieland en langs die boord, verby Die ou murasie van die kraal waar stamvrugbome groei - Groot stamvrugbome donkergroen, waarop die songlans speel Soos op die donker bokant-skyn van donkergroen ferweel. Die kronkelpad van Kanniedood, dit bring jou waar jy wil; Na vrinde wat jou voorspoed wens en antwoord as jy vra; Of verder, as jy verder gaan en nog meer krag verspil Om deur te reis die Bosveld in waarheen jou drang jou ja; Jou eie wens, jou eie gier, al wat jou voorwaarts stoot, Bepaal alleen waarheen dit lei, die pad van Kanniedood! Die kronkelpad van Kanniedood gee orals uitspanplek, Al kronkel dit woestyne deur tot in 'n woesteny; Daar's water volop langs die weg en weiveld waar jy trek; Daar's kans vir elke agteros om weer die span te kry; Want hy wat struikel as hy dwaal, half nydig in sy nood, Vind, as hy struikel, altyd weer die pad van Kanniedood! Gelukkig hy wat, as hy reis op daardie kronkelpad Deur weeldrig veld, of donker bos, of dorstig, dor woestyn, Sy moed behou, sy mag besef, al is hy afgemat, En weet die weg lei waar hy wil, in nag of môreskyn; En al die mooi rondom bemin, totdat hy eindlik kyk Op daardie laaste uitspanplek waarna die wêreld wyk! Vorige Volgende