Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Hierso se wêreld Die glans van die son is 'n glorie van glans. Kyk tog hoe heerlik die doudruppels blink, Klein reënboogkleurtjies wat skitter en dans, Half in die môre se wasem verdrink! Heerlik, o heerlik is hierso se wêreld Rondom met spinnerak-silwer bepêreld; Fraai met die voorste liefkosing van lig; Vrolik net soos 'n jong seun se gesig - [pagina 278] [p. 278] Najaar se môre, as wintertyd gryp Vinnig sy strooipotjie vol met wit ryp, Klaar vir die son wat nou nader kom Sonder om vroeg voor die middag te krom, Sonder om hitte te strooi oor die land - Hitte wat skroei en die mooiheid verbrand; Najaar, nog kind en jaloers soos 'n kind, Nimmer tevree as hy vrind is van vrind - Liefde verdeel onder drie is te min, Amper al op, eer die liefde begin! Stil lê die werf hier, bewierook met geur, Geur van die grond wat die winter ontmoet; Bly om verandring van borrelende kleur, Bly om die glans wat sy weelde begroet. Heerlik, o heerlik is hierso se aarde, Propvol met lewe in lang opgegaarde Bolle en wortels en saad in die sand, Hier deur die traaknie van winde geplant; Afskud-laatval van die volop tevore Bot, in die kiemende slaaptyd gebore, Knoppies van Kanaän se weelde wat wag Stadig, geduldig, die drang van die krag Wat in die wêreld, nou wit met die dou, Sluimer, maar altyd sy sterkte behou - Krag om die gras, wat die ryp roesrooi soen, Weer tot die rykste smarag te vergroen; Krag om die treur van die winter se drag Hier te herskep in 'n paradys-prag! Vorige Volgende