Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 277] [p. 277] Ouderdom se kans Die môremis versluier nog die vlei; Dit kruip nog in die groefies van die kloof, Want, eer die môreson sy aandeel kry, Word al die môresterre uitgedoof. En kyk, daar gunter oor die garsland straal 'n Dowwe ster. Dit is nog douvoordag; Die skape staan geduldig in die kraal; Die spreeus soek die weiveld wat hul wag. In volle glorie groei die ooste, geil Met kleur van silwerpers en perlemoen; Bo pronk-blou bergekranse, reg-af steil, Ontglip die songoud in 'n see van groen. 'n Nuwe dag, 'n nuwe lewe, vol Van siel en kleur en lig in harmonie, Word in die vroeë môre oopgerol Om nog 'n laaste kans te gee - vir wie? Vir hom wat oud is, ouderdom-bewus, Sy dae sat, die traaknie-siel te sleg Om méér te doen as met geduld te rus Op wat hy het, waaraan hy waarde heg. Want ouderdom, wat daagliks afdraand loop, Verdien sy kans meer as die moedige jeug Wat heerlik teer op ryk-gekroonde hoop En elke nuwe dag begroet met vreug - Die kans om verder in wat vorentoe Geheim staan wag te kyk, en deur te vra Totdat hy antwoord hoor op daardie ‘Hoe?’ Wat kerm om krag om wat hy ly, te dra. Vorige Volgende