Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Liefderente Liefde wat bo en oor die las van self kan klim, En eiesin tot onselfsugtig drang kan sublimeer, Daarvan, o daarvan het jy gegee Volop en meer as ooit volop kan wees - Totdat die diep fonteine uitgetap was, Totdat die sielmurg bloedloos was en lam! En nooit het jy beloning ooit gevra nie! Geen woord, geen knik, geen trek van laggende lip nie; Geen troostend streling van 'n sagte hand nie; Geen korrel van weerliefde of ontluikende beminning, Of greintjie van 'n dankie nimmer nie! En tog - diep, dieper as die sielmurg, dieper As die oerbron van die diep fontein van liefde, Dáár in die binne binnenste van binne, Daar was 'n onbesoedelde, onbevlekte, Oneindig tere hoop en stil verlange Na weergee van wat vry, voluit gegee is. Niks skandeliks, nóg iets om oor te treur nie! Nee, eerder steun vir hom wat liefde leen Sonder die kans van rente-kry of woeker, Is daar die hoop dat rente tog sal kom. Vorige Volgende