Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Die winter kom Die nuwe jaar se lelies sier die droë, donker vlei; Die swaels versamel voor die trek in klompies op die draad: Die doringboomblom se afskud-goud tapyt die roesbruin klei; Die groen-gedoste kloof verklee hom in sy grys gewaad; Want winter loer Daaragter, waar die najaar nog Probeer te boer Met wat daar oorbly van die vog Wat lewe met sy krag laat roer, In kruid en kiem kortstondig bruis Voordat die somergloed verhuis. Net soos 'n man wat tot sy manlikheid Geklim het deur die jare heen, En ouderdom sien aankom en die tyd Waarin die kalmte van die skemer-seën Sy jeugdige hartstog stadigaan laat kwyn, Tot net maar liefde oorbly, sien die veld [pagina 276] [p. 276] Sy somerrykdom stadigaan verdwyn, As warmte padgee vir die koue geweld Van winter met sy ryp, Wat al wat groen is, gryp En omkleur in sy mantel bruin en grys, Of bloedrooi, waar die rooibosblare wys Hul onderdanigheid-aan wat hy vra, En doodgeduldig dra Die nuwe kleure wat sy yskoue hand Geverf het oor die land; Geduldig, want die rooibosblare weet, Soos elke veldbewoner wat hier groei, Hoe uitgerek ook martelmaande meet Die barenstyd voordat weer bloeisels bloei, Die bloeityd kom! Want winter met sy kou Is rustyd vir die somer. Weet en wag, Totdat die sap wat elke tak behou Sy lewe uitstraal in hernude prag. Vorige Volgende