Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 275]
| |
Van die al-omspoelende en alreine see
Waarin geen voortbestaan van liggaam of gees
Skuil, nóg die huiwerige gedagtes, stom
Vir woorde en taal, met nou en namaals twis.
O heerlikheid, wat hartstog laat verkwyn
Tot iets wat nietiger as niks-nie skyn,
En die diep-dinkende siel bo dink verhef,
En bo besef van self, en bo verstand,
Totdat die wêreld-worstel en gedrang
Gesus word, soos die see-galm in 'n land
Waaroor 'n dik, bedompge see-mis hang!
O Lotusblom se louter lotuskleur!
O glorie-aanskyn met sy sagte geur!
O maagdlik Lotusblom in wie se skyn
Die reinste menslik reinheid onrein lyk.
Juweel van stille waters wat verdwyn
Onder die skadu van oneindigheid,
Simbool van liefde en van liefderyk
Geheiligde toewyding deur die tyd
Aan alles, alles wat die liefde wek,
En alles, alles wat tot liefde strek.
O Lotusblom se reine lotusskyn,
O troos in sielestryd en sielepyn!
|
|