Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Waarom? Quid tibi tantopere est mortalis quod nimis aegris Luctibus indulges? quid mortem congemis ac fles? Waarom so wild gehuil? Watter rede bestaan daar vir trane? Wat is die lot wat jou dreig, of die las wat die Dood jou sal oplê? Waglende halme in die wind - die blom wat verlep in 'n middag - Dowrige, donsige wolkies daarbo in die krom van die hemel - Branders wat groei tot 'n berg van smaraggroen-deurskynende skoonheid, Branders wat breek in 'n oomblik tot skuim waar die reënboog in lewe - Fata Morgana se spieël waar die skyn as die werklikheid spartel, Net vir 'n rukkie, en vlug vir die vlammende gloed van die sonlig - Spinnerak-matte bedou met die soet, koele dou van die môre, Skitrende pêrels van vog, verwasem tot niks eer die skadu, Fier uitgerek, van die berg in die ooste vervaal tot 'n vlek - Wat is die lewe meer as al hierdie vlugtige skoonheid? Vorige Volgende