Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 273] [p. 273] Ballade van Broer Blindeman Die lelie wat trots op sy steel Sy sierlike blomblare krom, Met die skyn in sy kleur soos ferweel Is bly om te bloei as 'n blom. Jy sê vir my, vrind, dit is dom Om 'n lelie as voorbeeld te kry; En tog, as die brombye brom, Dan juig hy; sy lewe was bly! Die klimop daar bo die prieel Skyn goud, soos die doringboomgom In trosse van skoenlapper-geel Wat reik waar die ranke kan kom; Die geur van die bloeisels alom Deur sagte, soet winde versprei, Dit sing vir die wind en vir hom: ‘Ek juig, want my lewe is bly!’ Die dartlende waterman speel Oor die vlak van 'n kloof-waterkom; Hy kriewel en spartel en streel Die water en vlug om en om. Die donder kan slaan op sy trom, Die weerlig kan flikker verby - Hy sing, eer die skadu's verkrom: ‘Ek juig, want my lewe is bly!’ O vriend, eer die blindeman kom Om ons voort in die donker te lei, Sing, sing, voor jy stemloos verstom: ‘Ek juig, want my lewe was bly!’ Vorige Volgende