Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Karma In elke lewe skuil 'n vroeë lewe Wat onvoleindig op voleinding wag. Die siel wat in sy armoed eensaam strewe Na wat te hoog is vir sy wanhoopskrag, Voel, as hy beur, die klou Van iets wat dof onthou Wat in die ver verlede, vóór sy tyd, Gebeur het. Wêreldwyd, Alom, soos kleur wat die heelal beverf, Die hemel blou maak en die blare groen, Wat in die diepsee-water, oorgeërf Van gistermôre, glinster en wat soen Die maanhaar-branders wat In skuim-bruis teen die rotse spat, Rek deur die lewe heen beseffing van die skat, Of las of vloek, tevore opgevang, En maak die siel, bewus van wat hy oorhou, bang. Dit is die vroeër lewe, met sy skuld Nog onbetaal, nog onvergeld, Wat wag met liewe, lydende geduld, Op nuwe kanse om sy doel te seën, Soos in die droogte-tyd die droë veld Op water wag en wierook wat die reën Oor deurnat aarde aan die aandlug leen. Vorige Volgende