Volkplanterslied
Uit die ou noorderland, waar die kou in die winter die wêreld beklou
En sy spierwit sneeumantel ontvou oor die blaarkale bome wat treur;
Waar die voorjaar-kaneeltjies se prag die bruin van die bosgrond versag,
En die wind van die kalkkranse smag na die narsings se maagdlike geur;
Waar die see se saffier en sy groen en die lug se blou-bleek perlemoen
Deur die somer se goud word gesoen tot 'n mengsel van minlike kleur;
Waar die hand van die ou tyd nog wys op beroemde kasteel en paleis,
Deur die las van die jare vergrys en met rankende klimop beklee;
Waar die statige suile, omring deur die eensaamheid, wag in 'n kring
Vir die gloed wat die môreson bring uit die ooste ver oorkant die see;
En die adel van arbeid en werk nog die siel van geslagte versterk
Met die mag van 'n krag onbeperk, soos die krag wat getrouheid kan gee
Daarvandaan, uit ons sluimer gewek, oor 'n sesduisend myle ver trek,
Hiernatoe, waar 'n nuwe land strek voor ons oë so ver as ons kyk,
Kom ons, moedig en dapper, gewyd aan wat voorlê - òf vrede òf stryd -
Gesteun deur die krag van die tyd, om te win of in stryd te beswyk,
Met die hoop op die seë wat wag hierna op die held se geslag;
En die son wat hier bowe ons lag, bewys wêreld rond ons is ryk!
Ja, ryk in die bloed wat ons bring, en die dapper volhard wat ons dwing
Om te stry vir die doel, as ons sing om ons moed te bewaar vir die taak;
En ryk in die liefde wat ly, wat verdra en wat hoop as hy stry,
En verwyte en klagtes vermy tot die pyle die mikpunte raak;
Want die siel wat ons krag gee, is oud, deur die jare gelouter, soos goud
Deur die vuur is gelouter, en koud is die as deur die vonke versaak.
Onder vreemdeling-sterre geskaar, staan ons moedvol en vry bymekaar,
Vir ons nuwe verpligtinge klaar, aan ons land en ons lewe getrou!
As ons soms, in ons trots en ons wee, van ons krag en ons oorvloed wil g
Aan die ou moederland oor die see, kan jy kla as die liefde onthou?
Of verwag dat die kind sal vergeet, as die jare sy ouderdom meet,
Wat die veld en die pronk-sterre weet, vóór die lig van die lewe verflou?
|
|