Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XVII My moederstad Drie-vierde deur die vaal-blou see omsoom En met sy wonder-bergmassief bekroon, Lê in sy luisterryk voorjaarsprag so skoon En statig-sierlik soos 'n vors wat droom In sedige, trotse kalmte onbeskroom, Sterk in homself en magtig op sy troon Deur wat sy werk van vroeër jare loon, Met eer en roem wat skaars die tyd kan toom En skaars vergetelheid kan skend of klad, Bewus van krag, van koningsmajesteit, [pagina 267] [p. 267] En sonder vrees vir wat die toekoms vra, Sterk in homself vir al wat kom, bereid Om deur die jare heen sy las te dra, In middagson verlig, my moederstad. Rondom hom, op die helling, vlakte en vlei, Op sandduin en op leegtes, gras-begroei, Pryk suring-pragte weelderig in die bloei, In kleurtapyte orals rond gesprei, Wat geur en glans as oor die bloeisels gly Die sagte middag-seewind, wat die skroei Van die loodregte, louwarm sonstraal snoei En hitte afruk van sy heerskappy. My suringstad, soos 'n juweel geset In die vaal-blou montuur van berg en see, Wat trots na die verlede trug kan kyk En trots kan roem op wat hy is en het! My moederstad, waaraan die skoonheid gee Die prag wat op die puurste pêrel pryk! Vorige Volgende