Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 264] [p. 264] X Die wind O lieflik triolet van die liriese wind, O soet vergeurde sefier wat kom sing 'n Lied vol ou, vertroude klanke en bring 'n Aalmoes van die see, waarin 'n kind, Of grysaard ryp in lewenswysheid, vind Verkwikking vir sy siel, 'n lied wat dring Tot teen die bastions van die berg en dwing Die klowe tot 'n weergalm eensgesind. O wonderlike suidewind wat streel, Wat troos, en meer as troos ooit werd is, gee Aan wie die inhoud van sy boodskap weet, Of aanbied om as speelmaat mee te speel, En in verrukking as hy speel, tevree, Die groter armoed van sy siel vergeet! Vorige Volgende