Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende II Die pan Ver agter, teen 'n bleek saffier-gordyn, Rys die bruin bulte, nat met môredou En bont met skadukolle wat verflou, As van die gras die spinrakdons verdwyn En die vlak panne blink van sonneskyn. Die voël-bevolkte waterspieël behou Sy bruinvaal kleur, gevlek met frisser blou, Met ruigte-oorgroeide poele, rooi soos wyn; En tussen bult en panne lê die vlak, Verbruinde veld nog winter-moedloos moeg, Met vygies sonder blom en bosse in blaar; En voor, waar geel sandduine see toe sak, Lê nuwe grond waarin die strandmol ploeg, Waar suringbol en lelie prag bewaar. Weer, as die winter oor is, breek die dag Oor bult en duin en rimpellose pan, En trek die môreskemer-sluier van 'n Bont-geverfde wêreld in sy prag, 'n Veld wat, vol van vygiekleure, lag Met tinte wat, deur winterkou verban, Weer burgerreg herwin het, soos 'n man Deur skuldbely weer wen verlore krag Vir groter, ryker werk. Die eendvoëls gly [pagina 261] [p. 261] In strepe oor die duine; elke pol Hou riethaan-pare, ywrig aan die bou; En statig in die sonskyn, ry op ry, Rooskleurig-wit en stil, gedagtevol, Staan die flaminkeskaar vergaadring hou. Vorige Volgende