Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 260] [p. 260] Sonnette I Kinderverstand Ek soek, in pelgrimstogte deur die duine, Die stem wat eenmaal ek as blootvoets kind Gehoor het en verstaan het in die wind, En in die see se growwe bas-basuine, In kreun en kraak van branders wat die bruine, Geknoeste bamboes uit mekaar ontbind, En waterskoon en waterkleur verslind, En strandkastele wegslaan om in puine Te lê en treur! Maar hoe ek vlytig luister Na vroeër ritmes op die wind se snare, En taal wat kom van die klanklustige see, Ek hoor net grof geritsel en gefluister. Ek mis die juigkreet wat in kinderjare Die weergalm van die branders my kon gee. Vorige Volgende