| |
| |
| |
Skoonheidstroos (1932)
| |
| |
Pater Servaas
Pater Servaas - eers broer en later vader
(Want ouderdom gee aansien en bring nader
Die eerbied wat gegronde kennis verg
Van wie sy krag erken, en kind bly dwerg
In jeugdige onskuld waar die growwe tyd
Nog met sy tekens talm; in hierdie tyd
Win hy wat aanhou, taaiste, skoon sy krag
En kennis swig vir wat oor kennis lag:
Die jeugdige vermetelheid en moed,
Die traaknie-toon, die opbruis van die bloed
Deur spier en weefsel wat die tyd kan tart
Uit pure onwetendheid van tyd se smart),
Servaas, dus Pater, langgerek en grys,
Kunsmatig kaalkop (want sy kol bewys
Sy wyding, soos sy kleed sy vak); bedaard;
Gerimpelde gelaat; groen oë; baard
En winkbroue al amper wit; wie wil,
Kan maklik optel hoeveel jaar, verspil
Met niks-doen, diep oordenking, nodig was
Om soveel grys aan soveel bruin te las.
'n Maer, morsdroë Pater, met 'n moed
Wat mondig maak, en jeug se speel vergoed
Deur meesterwerk, met meesterse beleid
Gedoen, en aan die Meester toegewyd.
Aanskou hom, nederig in sy swart soetaan.
Daar waar hy peinsend by die voormas staan
Sy oë na die ooste, waar die son
Goudstrale uitskiet oor die grys plafon
Wat oor die berge uitstrek, met die lig
Van vroeë môre op sy bleek gesig.
Daar gunter, in die land van Hoemajeen,
Groot Akbars vader - aalmoes vir 'n seën!
Want liefde wat liefdadigheid verwek,
Ontsluit die grendels van die hemelhek -
Daar wag, soos weiland op die hand wat saai,
Of goue graan op sekels wat kom maai,
Deur oer-ou heidendonker dig omring,
Miljoene op die boodskap wat jy bring.
Pater Servaas, dit lok die moed wat brand
Vir sendelingswerk in Hoemajeen se land!
Die seereis - marteltyd vir een wat skroom
Om ver te vaar - was soos 'n nare droom,
Wel weke lang, waarteen die woeste pyn
Van Heilge Lourens op sy rooster kwyn!
Die skommel-op-en-afgaan elke dag
Was louter foltring bo 'n mens se krag.
| |
| |
Ná lang, lang worstel teen oorstelpend mag
Kom vrede soos ná voelbaar donker nag,
En waar die ontelbre eilande belaai
Met palmboomgroen die stil, diep see besaai,
Daar vind die voet 'n rusplek wat bly staan
Al woel die wind, al skud die see se slaan.
Vir hierdie troos Laus Deo! Sendelingsmoed
Vlam op; die slagaar stoot weer nuwe bloed
Voort na die spier en senu. Spier, bekeer
Tot nuwe arbeidsywer, handel weer
Soos swakke mensewil dit aanspoor. Taal
Kan weer gebruik word. Ondervinding haal
Gelykenisse voort om klem te gee
Aan argumente deur verstand gesmee;
Geloof, wat moedloos was, kruip wakker uit,
En twyfel, vir 'n tyd, word vasgesluit.
Pater Servaas is klaar sy man te staan
Selfs as sy weg deur martellane gaan!
Groot Akbars pronkpaleis, waar marmersuil
Die marmergewels stut, as oor hom huil
Die moesson-wind, wat van die warm woestyn
Rooi sandstof skud op swaar ferweelgordyn
En goudsnywerk en muur van malachiet,
Waaroor 'n kring van reënboogkleure skiet -
Oortollige rykdom en weelde, pronk en prag,
Gekunstelde skoonheid waar die siel om lag.
Pater Servaas is mans genoeg om oor
Die lok van lus die stem van plig te hoor.
Verkondig waarheid! Druk die heidendom
Trug in sy donker! Maak die spotter stom
En roep totdat die dagbreek-ooste hoor,
Totdat die sneeubelaaide berge in koor
Die loflied meesing, wat genade gee
En hoop en troos en in die worstling vree.
Straal uit jou liefdekrag, besiel met moed
Wat waar geloof gee, selfs tot martlaarsbloed!
Geen spraak van martlaarskap of heldekroon
Is hier nie, nóg van spot of bitter hoon;
Net hoflikheid en ridderlik gebaar,
En strikvraag fyn soos spinrakdrade, waar
Jy ruwe ysterboeie kon verwag,
En hoon en spot en vyandge skaterlag -
Net vrye tegemoetkom, vrindehand,
Geil ryke huldbetoon wat haat verbrand
Net soos die Ganges-lykvuur, waar die lyk
In roetrook van sy aardse houvas wyk.
Want Akbar, daardie wit geklede vors,
Met daardie blink juweelplaat op sy bors,
| |
| |
Trots in sy seedge, staatge majesteit,
En tog met iets wat hard om meely pleit -
Iets wat verstand, en meer nog siel, verstaan,
Iets wat tot kalm besadigdheid vermaan,
En hartstog, selfs al spruit dit uit geloof,
Van reg op lewe en bestaan beroof -
Is Akbar - Groot - 'n siel wat durf en kan,
Vors onder vorste, onder manne Man!
En Abdoel Feisal - koddig dat 'n gees,
So groot, tevree met stof so klein kan wees
As hierdie liggaam, uitgeput en teer;
Die kind-fyn hande deur die tyd verweer,
Die skerp gelaat deur ouderdom besaai
Met rimpels wat sy ruwe werk verraai;
Die fonklende oë, gulsig na die lig
En selwers vol daarvan, die bleek gesig,
Die dun, sarkasties lippe met hul lag -
Dis Feisal wat na waarheid soek en wag.
Was Aquaviva gloeiend heet met hoop
(Vir kunstnaar, Pater, soos hy was, geen knoop
Was ooit te ingewikkeld nie), die taak
Is hierso ewe maklik, want die saak
Is kinderlik eenvoudig. Ons besit
Is egte vol-karaatgoud; swart op wit
Hou ons die waarheid. Wat, ná al die tyd
Aan twis-verliefde Thomas toegewyd,
Aan al die haarkloof-argumente wat
Die Sorbonnis met al twee hande vat,
Aan al die lang oorpeinsing en gebed
Bestee tevore, sal ons nou belet
Om hierdie onkundge heidens, slaaf en heer,
Met God-verligte redes te bekeer?
Die aand daarna - 'n kalm, bedaarde duister
Met vonkies lig en sagte, soet gefluister
Van nag-betowerde blou apies, wakker
In boom en bos en, vir blou apies, makker
As ooit die kloosterkat was - swart en groen
Saam ingevleg tot skaduwee wat soen
Die lang, afdalende rande waar die bos
Sy arme wyd-ver ope slaan, en los
En vas tesame gryp in donker glans,
Wat skitter soos 'n reën-benatte krans
Waarop die middagskadu val - 'n nag
Vol mymerende vrede met 'n vrag
Van diep gedagtes, duister soos hy self
Wat duister lê onder sy glansgewelf.
| |
| |
Geen wonder, Pater, dat 'n mens se span
Van denkvermoë korter reik, en van
Die redenaarskrag wat in die son se skyn
So fier gefonkel het, 'n deel verdwyn.
Die donker dra 'n duiselig invloed wat
Die lus vir stryd en haarkloof-woorde vat
En in sy vysel stukkend stamp en eis
'n Kalmer, beter vrede as bewys
Van wat jy weet is waar. Gepeins, gebed,
Die houvas van Geloof, kan alles red.
Pater Servaas, hou moed! Sal heidendom
Met spinrakgespe jou boodskapgil verstom?
En tog - Twyfel, soos koljanderruik,
Wat deur die seewind opstoot en, gefnuik
Deur wierook van die see, net soos 'n wasem
Jou neusgat prikkel as jy stadig asem,
Dring deur in alles. Wie skeidsregterspligte
Aanvaar, moet kundig optree. Vergesigte
Van ideale gly soos skimme voor jou,
En drome uit die ou verlee betoor jou.
Gryp na geloof en dogma! Stel jou kennis
As bolwerk teen die twyfel! Wat jy wen, is
Die moed om voor te ywer, skoon die smart-steek
Jou siel verdor en onder smart jou hart breek.
Die end daarvan? Geskiednis, wat nooit lieg nie,
Sê dat hy wat nooit mee-mens wou bedrieg nie,
Homself nie minder nie, sy sendelingsywer
Sien daal en kwyn het. By die lotosvywer,
Wat louter songloed vang en, skadublou,
Die blare-vlekke in sy spieël ontvou,
Daar sit Servaas en peins, en deur die jare
Verbleek sy siel net soos die lotosblare.
Hy voel die foltring van sy eie rede,
En spartel, swart-mismoedig in gebede -
Hy wat vir Akbar van die dwaalspoor-sypad
Wou afkeer, dink: ‘Miskien is dit ook my pad.
Staan ek vandag neerslagtig net soos hy
En moedloos en beteuterd, bang vir stry
Net waar hy staan? Die kanse bly gelyk...
Sal ek ooit weer die regte pad bereik?’
Pater Servaas se storie, soos dit is,
Bly waarheid. Wie daaroor wil gis, kan gis.
Word hy 'n priester van die nuwe leer
Waaroor die spotlag van Abdoel regeer?
Of priester van die groot geheim wat klop
Eentonig, statig, in groot Akbars kop?
Wie weet? Die storie sê maar dat Servaas
| |
| |
Sy sending opgegee het en in haas
Getrek het, van die keisershof terug
Sy klooster toe gekom het, om te vlug
Van rede en van kennis wat hom tart,
Weemoedig, met vertwyfling in sy hart.
|
|