Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende 'n Kersnaglegende ‘Waar Judas, volgens die genade wat hom verleen is, een nag in die jaar ronddwaal om hom af te koel op die Noordpoolysveld.’ - (Ou Legende.) Op Kersnag, as die noorderligte Die Noordpoolys met silwer spoel, Klim Judas uit die hel se hitte Om op die ysveld af te koel. 'n Enkele nag, uit al die nagte Wat altesaam 'n jaargang tel, 'n Enkele nag, uit al die nagte Waar elke nag gedurig kwel, Is syne. As die Noordpoolligte 'n Gloed van goud stort op die wit Van eeue-oue see-ysrotse, Dan klim hy op om daar te sit. Stok-oud - nog ouer as die rotse, En bleek - nog bleker as die ys, Met oë dowwer as die sterre Waaroor die skemerdons vergrys, Sit hy daar eensaam en verlate, Met net die ys rondom; alleen, En tog omring deur spookgedagtes Wat op die ysveld staan en ween, Gedagtes uit sy kinderjare: Oliewenhout se grysgroen loof; Lemoen se goud en dadelpalme; Die donker-koel, groen bergekloof; Die kudde skape op die weiveld; Die mure van Jerusalem; Die glinsterkoepel van die tempel; Johannes met sy silwer stem; Die soekende wyse uit die Ooste; Die blink ster bo die bakermat; [pagina 258] [p. 258] Getsémané se smartvol vrede; Sy eie duur-gekoopte skat; Sy bloedrig dertig silwerlinge; Die stuwende skaar se swaar gedruis In optog na die martelheuwel; Die doringkroon, die riet, die kruis - Dis algar syne. As die ligte Die brandwond op sy bors bestraal, Dan sien hy hoe die spookgedagtes Weemoedig oor die ysveld dwaal, Soos skimme wat in droomgesigte Gesien word, of as koors jou kwel, Gedaantes uit berou gebore, En uit vertwyfling saamgestel. Omring deur stralende prag en glorie, Daar waar die yskoud ysveldgeur Sy lawende koelte oor hom uitstort, En elke ysrots blink met kleur, Met blou saffier wat in die dieptes Versterk word tot 'n donker groen, Met geel wat die karbonkel uitdaag, En teerste pers en perlemoen; Omring deur al sy spookgedagtes Wat uit die verste verte wink, Stokoud, gebroke, afgemartel, Met nog net krag om trug te dink, Dwaal Judas op die Noordpoolysveld Op Kersnag, sy genade-nag - Die enkele nag uit al die nagte Wat troos kan gee of smart versag. En in die blink straal wat die ligte - Die noorderligte - op hom giet, En in die goud- en reënboogkleure Wat deur die yskoud rotse skiet, Bespeur hy met sy dowwe oë, Gemartel deur die eeue heen: 'n Aalmoes wat sy siel kan lawe, 'n Troos wat afdaal soos 'n seën. Op Kersnag, as die noorderligte Die Noordpoolys met goud bestraal, [pagina 259] [p. 259] Klim Judas uit die hel se hitte Om op die ysveld rond te dwaal; Op Kersnag, as die kandelare Met kerkgewyde kerse pryk, En vreuggeskal van Kersnagkore Tot teen die verste sterre stryk, Dwaal Judas op die Noordpoolvelde, Stokoud, gebroke en alleen, En soek na wat sy siel kan lawe: 'n Troos wat afdaal soos 'n seën. Vorige Volgende