Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 217]
| |
Die Bergtragedie (1932) | |
[pagina 219]
| |
Die najaar, met sy nuwe gras,
Met reën wat bult en vlakte was,
Met milde koelte wat die brand
Van somerdroogte deur die land
Versag, en oor die wingerd strooi
Die afvalblare ysterrooi
- Pontak se rou wat sonder traan
As treur vir somersaftrek staan -
Die najaar wat die lelieblom
Laat blaarloos bloei op leegtes, kom.
⋆
Nou waai die wind oor weiland braak,
Oor saaigrond van sy groen versaak;
Dit swaai die wilgertak wat geel
Van songloed vir sy blare steel;
Dit streel die grys renosterbos
En die dor fluitjiesriet, verlos
Van saad wat, deur die wind gewaai,
Die oewers van die lopie saai;
Dit strooi in klowe die wit sand
Wat skulp-gespikkel op die strand
Gelê het, waar die groot rivier
Met bruin skuimbranders later tier;
Dit raap tesaam in hoek en draai
Die dooi boomblare wat verwaai
Met 'n geritsel, soos 'n sug
Wat wegraak in die kou, blou lug;
Dit klits die pan se watervlak
Tot skuim wat teen die biesies plak
- Grys, geelwit skuim, deur stof verfoes
Van reinheid tot 'n modderroes;
Dit slinger oor die velde heen,
En die betowerde kranse teen,
Die bulte oor, die berg verby,
Oor sandvlak met sy duin en vlei,
Oor diep verskeurde hellingklei,
Waar kraak en spleet die mag bely
Van die uitspoelstortreën wat kan terg,
En meer as wat die droogte verg
Van grond en aarde eis en vat,
Totdat hy, van sy wreedheid sat,
En nie meer nydig soos die see
Sy water weer tot wasem gee.
In koorgeskal, van twyg en tak,
Waar Somers laaste blare hak
- Die dooie blare wat behou
| |
[pagina 220]
| |
Die bruingeel kleure van berou -
Klink in die môrestond die lied
Van vinke wat 'n lofsang bied
Aan wie wil hoor, 'n bly koraal
Waarvan die dowwe weerklank dwaal,
'n Sag gefluister skaars gehoor,
Die stroombos deur, die vleiland oor,
En van die doringbome kom
Die heuningby se sag gebrom.
'n Veld vergroei met kêr-kêrbos
En dekrietgras, waarteen die os
Hom skawe as hy deurtrek; sand
Nog nat met klam van reën; 'n land
Van ruigtesuurveld wat sy oes
Nog in hom hou, en waar die roes
Wat winter op die wêreld bring,
Al stadig deur die groen verdring
En geil gemaak word, waar die saad
Reeds opskiet en die skuil versmaad
Wat dekselsand en wapadstof
Verskaf het, en sy onmondig lof
Songulsig boontoe opsteek, klaar
Vir wat hom voorlê hierdie jaar.
En agter strek 'n laag van grys,
Van suikerbosse wat kan wys
Op jare van verdrukking deur-
Gelewe en deurstaan; die geur
Van tolbos en van waboom sprei
Die vlakte oor; die heuningby
Is besig met sy werk en brom,
En suikerbekkies vlieg rondom.
Daar aan 'n slanke vlierhouttwyg
Is reeds die grasring aangeryg
Wat vinnig tot 'n nes sal groei,
Voordat die jong viooltjies bloei -
Die nes met week dons uitgevoer
Waarin die nuwe paar kan boer,
Waarin die grys-bruin eier kan rus,
En veerloos kuikentjies, gesus
Deur sagte veldwind, as hy waai
Hul veilig om en om kan draai.
'n Jong seun, in sy jonglingsdrag
Klaar vir die klim, met jonglingskrag
Wat in die slanke spiere steek
En moeilikheid kan win en breek -
'n Krag wat ongeskoold sy sin
Kan nastreef met die hoop op win,
| |
[pagina 221]
| |
En wat gevaar en dreig versmaad
En met sy jeugdige moed die daad
Wat voor hom lê, as mikpunt ag,
Trots in oortuiging van sy krag.
In sonskyn wat die groen laat blink,
In warmte wat die wit dou drink,
En onder daardie wolkloos blou
Wat afkrom tot die see, en hou
'n Dieper, donkerder saffier
As wat die lug daarbo versier,
In stilte, vredevol rondom,
Waar net die veraf weerklank kom
Van die seebranders, ver benee,
Wat teen die Houtbaairotse skree,
En met die bergkanarieslied
Wat onverwags 'n welkom bied
Uit ruigtebos, nog môre-nat,
Betree die seun die kronkelpad
Wat oor die bergkruin suidwaarts stryk
En veilig vir sy voetstap lyk.
Die wind kom op, die oostewind,
Wat wasem op die seevlak vind,
En gulsig, met sy gierige krag,
Dit opstoot waar die berg hom wag.
Hy jaag dit as dun wolkies aan,
Kou vog wat teen die rotse slaan,
En aanpak as dit uitmekaar
Verstrooi word en dan weer vergaar
Tot dikker newelmassas, swart
Soos middernag en koud soos smart -
So bitter koud dat bos en klip
Met trane drup, en trane glip
Bo oor die krans, voordat die mis
Die bergvlak met sy duisternis
Oordek het. In 'n oomblik taan
Die son se strale, en vergaan
Die blou lug bo se sag asuur,
Die see daaronder se glasuur;
Die weerklank van die branderhuil
Verdoof; die bergkanaries skuil,
Verkluim en liedloos, onder loof,
En die natuur, van glans ontroof,
Lê stil, oorrompel deur die mis
Wat met die wind en sonlig twis.
O prag van donker newel-wind
Wat met een slag die son verslind;
Wat met sy skadu, magtig, sterk,
| |
[pagina 222]
| |
Die heilglans van die lig beperk,
En wat tevore helder dag
Gewees het, maak tot middernag -
'n Nag waarin geen sterre skyn,
Waar alles in die swart verdwyn;
'n Nag wat nat met motreën is,
Met voelbaar, vatbaar duisternis,
Angswekkend met sy stille krag,
Oorstelpend met geheime mag,
En vol gevaar lê, swart en wreed,
En donker soos 'n doodkiskleed!
Die bergmis borrel oor die trans
En strooi sy grys oor kloof en krans.
Dit golf tot onder in die dal
Soos water van 'n waterval
Waaroor die skuimdons swierig sweef,
Waarin die son se skynsel leef.
Dit kruip al om die rotsskans oor,
Van agter donkerswart, van voor
Soos nuut kapok, spierwit en sag,
Waaroor die môresonstraal lag,
As hy met tere lig bestraal
Die donserig wolk se grys en vaal
En met sy towerstaf die vuil
Van dowwe as tot goud verruil.
Hy skep daar uit die donker grys
Die puur wit van 'n paradys
Van reinste sneeu, van blink ivoor
Wat, wie dit veraf sien, bekoor.
Dit is die dekkleed wat die see
Se wasem vir die bergkruin gee:
'n Mantel vir die majesteit
Van klipmassief, waaraan die tyd,
Wat alles wegruk en verskeur,
Vergeefs gevreet het jare deur,
Wat, ondanks terg van wind en weer,
Net trotser in sy trots regeer
Met uitgehakte punt en rand
As reusesieraad oor die land.
Daarbo, met donker, klam en hard
Soos middernag se duister, swart
Soos dieptes van 'n put wat dig
Beskadu lê, en waar die lig
Gebreek word tot dit donker is,
Rus, meester van die berg, die mis.
Hy drup sy stadige druppels sag
Oor heesterstruik en blommeprag;
Verskuil die afgrond wat verdwyn
| |
[pagina 223]
| |
Agter sy nat, grys wolkgordyn,
En hang bo oor die voetpad, smal
En gladderig-glipperig, langs die wal
Waar sandsteenklippe, mos-verkleur,
Oor die verduisterde dieptes treur.
O jongelingsmoed, wat deur kan stry,
Gevare teen, die hoop verby;
Wat met 'n glimlag, hoe ook vrees
Die hart laat hardloop, man kan wees,
En op sy eie krag kan bou,
En op sy jeugdige moed vertrou!
Die jong seun stap versigtig, sag
Die voetpad op. Die helder dag
Wat net-nou om hom luisterryk lig
Gestrooi het en sy aangesig
Vergul het met die lewendige gloed
Van sonkleur, en sy jonglingsmoed
Versterk het tot hy duisendmaal
Meer lewenslus gevoel het, faal.
Die donker klem sy kloue vas
Oor hierdie wêreld. Waar hy tas,
Versigtig, soos 'n blinde trag
Sy pad te vind, is donker nag.
Sy voete op die bergpad gly
Die mos-geverfde rots verby
Tot waar die gras die grond versier,
En bliksemsnel van brein na spier
Vlieg, om te waarsku waar dit kan,
Die prikkel wat tot krag moet span.
Te laat! Die jeugdige, slanke lyf
Word in 'n oomblik dood-verstyf.
Die kennis wat die na-gevaar
Wat daardie grys gordyn kan baar,
Besef, besef hoe hoop'loos min
Selfs jonglingsmoed die stryd kan win.
Krampagtig gryp die kinderhand
Na houvas aan die afgrondsrand.
Die kelkiewyn-bos wat hy klou,
Is glibberig glad met bergmisdou.
Sy vingers gly daaroor en glip,
Die naels verskeur, oor rots en klip.
Niks meer wat jonglingsmoed vermag
Vir redding nie! Die afgrond wag,
Nog hier en daar in sonneskyn,
Daaragter die grys misgordyn.
'n Wanhoopsgil wat weerklank kry
Van bergkrans en van kloof; dan gly
Die grys gordyn, 'n tik tevoor
| |
[pagina 224]
| |
Uit sy egale gang verstoor
Deur daardie kort vertwyflingstryd,
Weer statig in sy majesteit,
Asof hy van sy wrede krag
Bewus is, oor die berg se prag.
Seshonderd voet en meer beland
Benede daardie afgrondsrand
Die mis se offer. Daar bestaan
'n Kliprak in die krans, waaraan
Die ranke klimop wat daar groei
En die bergblomme wat daar bloei
- Krulboegoe, aalwyn, stekeltee -
'n Weelderige versiering gee:
'n Breë kliprak, met sy groen
Nou deur die middagson gesoen,
Waarop die dooie liggaam vind
'n Rusplek waar hy deur die wind
Gestreel word. Op die groen gestrek,
Omraam met gras en half oordek
Met die krulboegoeblare, rus
Die lyk daar deur die wind gesus.
Die Siel wat deur die Dood ontspruit,
Rys stadig uit die liggaam uit -
'n Droewige siel wat skaars die druk
Van lewe mis, deur ongeluk
Ontydig van sy taak ontslaan
En nog nie seker van bestaan
Of nuwe lewe nie; 'n gees
Wat, sonder meely, sonder vrees,
En sonder selfbewussyn, kyk
Neer op die dooie kinderlyk.
Bo in die wydte van die blou,
Waar die pronkson sy glans behou
En met sy warme middagstraal
Die bergmis wat na onder dwaal
- Die bergmis wat nog gierig soek
Teen elke krans, om elke hoek,
Na wat daarbo met hom wou stry,
En nêrens wat hy soek kan kry -
Verwasem tot dit in die lug
Tot niks wat sigbaar is, vervlug -
Daar swewe in statige kringbaan rond
'n Adelaar op die middagstond.
En uit die skeurtjies van die klip
Kyk geitjies skuwerig uit en glip
Versigtig nader om te loer
Of die verminkte lyk nog roer.
| |
[pagina 225]
| |
Die treurende Siel rys op en kyk
Neer op die bloedbevlekte lyk,
En sien die grys-vaal, bleek gesig
Wat, opwaarts na die blou gerig,
Met oop, onsiende oë vlak
Onder die kransmuur van die rak
Daar stillê in die son se lag,
Sy trotsheid deur die dood versag,
Met om die jeugdige mond die trek,
Verstyf, van smart, deur angs verwek;
Die een been krom en weggesteek
Onder die lyf; die nek gebreek;
Die sagte vingervel verskeur
En met kneusvlekke bont verkleur.
'n Kind se liggaam, slank en rein,
Waarin elke rondte, elke lyn
En elke spier volmaak bewys
Die skoonheid wat die kunst'naar eis
Van wat hy vir sy kunsmodel
Gekies het; sag, fluweel-glad vel,
Net stadig deur die wind gelooi
Tot ligte bruin, waardeur die rooi,
Jong lewensbloed, toe lewe daar
Gehuisves was, in elke aar
Geskyn het; spiere slank en sag,
Deur werk gerond tot jonglingskrag
Wat nog sy onmondige slankheid hou
En sierlik oor die beengebou
Gegolf het, toe bewegingslus
Dit aangespoor het om bewus
Te krimp tot harde bande wat
Die waarskusenuprikkel vat
Wat elke spier en weefsel voel
En voortsit tot 'n daad met doel.
'n Kinderlyk, maar van 'n kind
Wat reeds in hom die voorjaar vind
Van mannesomer. Nek en ken
Gee blyk van wat die jare wen;
Die bleek gelaat se trekke toon,
In hom het manlikheid gewoon;
Bewuste sielskrag; louter moed,
Wat onmag en versuim vergoed;
Karakter en die vaste wil
Wat leed kan dra en smart kan stil.
Die ope kakiehemp se kraag
Lê om die slanke hals, waar vaag
Die groot knikspiere van die nek
Van sleutelbeen tot kopbeen strek.
Die kakie-kortbroek, half verskeur,
Krul om die ronde dyspier; deur
| |
[pagina 226]
| |
Die deksel wat sy drag verleen,
Steek die stomp-afgebreekte been
Met nuut-gestolde bloed bedek
Wat die geel kakieweefsel vlek.
'n Kinderlyk. Waar meely eis
'n Droefnistraan as treurbewys,
'n Snik, 'n smartvol soebatsug,
Of jammeruitroep om te lug
Die hartstogspyt dat iets, so geil,
So wreed verniel is, eer die peil
Van vol volmaakte mannekrag
Bereik is, dwing die skoonheidsmag
Wat goud kan giet oor droesemslyk
En selfs die Dood met prag verryk,
'n Hulde aan sy heerskappy
Wat sterker troos as medely
Van wie vir wat die skoonheid sprei,
Bewondering oor het, en wat bly
Sy mag erken, wat groter is
As die kou Dood se duisternis.
O skoonheid wat die liggaam skep
En die jaloerse tyd verlep
Totdat hy later, met berou
Vir wat hy van homself onthou
As reeds die Dood daarginter wenk,
Vir die ou mens nuwe skoonheid skenk ...
O skoonheid, wie sal ooit verklaar
Jou wese, of jou wonderbaar
Onsterflike invloed wat die siel
Vergoed kan heilig of verniel?
Die wysgeer wat, verdiep in dink,
Sy hartstog opgaar tot, vermink
En uitgedoof, dit nie meer krag
Of lus het om die skoonheidsmag
Te huldig met die hulde wat
Sy siel se drang-tot-dank versat,
Hy skryf en praat omslagtig oor
Die skoonheid wat die mens bekoor.
Die ‘gulde sektor’ wat hy stel,
Die reëls waarvan hy ons vertel,
Presies, formeel in kataloog,
Vir die estetiek wat hy beoog,
Kan nooit jou wese openbaar
En nimmer ooit jou mag verklaar.
Die Siel kyk op sy woonstee wat nou leeg
Daar lê, die ledemate van die lyf
Waarin geen bewerig lewenstrek beweeg,
| |
[pagina 227]
| |
Nou deur die dood reeds half met koue styf.
Die skoolkleur-gordel, wit en donker-blou,
Wat die jong romp omgord; die kakiebroek
Waardeur die bloed, sy rooi reeds swart met rou,
Al stadig syfer en 'n staanplek soek;
Die baardloos gladheid van die bleek gesig,
Nou vredevol met doodse vrede, stil
Soos een wat klaar is met die lewensplig,
En vir die Dood se koms nie meer sal gril
Of uitwyk nie. Die ooglid, lang behaar,
Wat aan die grys-blou oog 'n sieraad gee,
Die ronde wang, sy rondte bloedloos waar
In lewe dit gebloos het. Stille vree,
Soos wat die skemering in die aand trek oor
'n Watergat wat in 'n bergkloof pryk,
Rus op die vel se pure room-ivoor
En oor die maagdlike skoonheid van die lyk,
Soos op Narcissus, toe hy uitgestrek
Gelê het, skielik deur die dood verstik,
Of jong Patroclus, op die laerplek
Voor Priam's vesting vir die dood beskik,
En soos op menige jongling wie se draad
Wreed en ontydig-gou word afgesny,
Voordat hul kans kry om, met wil en daad
En moed, vir al wat edel is, te stry.
O rein volmaaktheid, wat betoon
In vorm, gedaante, lyn en vou,
Belofte van nog skoner skoon
As wat nou reeds volmaaktheid hou
- Belofte net so seker van
Vervulling soos die blomknop bied
Wat, as die knop sy blare ontspan,
Tot groter glans en glorie skiet -
Ook so gee hierdie jonglingskoon
Belofte van nog groter prys -
Van vol volmaaktheid wat hom kroon
Met skoonheid wat ons hulde eis.
O Skoonheid, wie sal grense set
Aan jou onmetelike mag,
Of met vermetelheid belet
Die invloed van jou god'lik mag?
Nie in die buiteblik of bou
Van voorwerp, kleur, geluid of smaak
Lê die volmaaktheid wat ons hou
Vir skoonheid, heerlik en volmaak,
| |
[pagina 228]
| |
Maar in die siel wat sublimeer
Tot goud die skrale sinsprofyt
Uit rein gevoel, en keer op keer
Dit omskep tot nuwe heerlikheid.
Die siel wat weet, wat boontoe vlieg
- Bo oor die drempel van verstand,
Bo wat ons aardse blik bedrieg,
Tot in die ryk verbeeldingsland,
Tot aan die grens van die heelal,
En 'skoon die buitewêreld grys
En haatlik lyk, met lofgeskal
Die wese van die skoonheid prys -
Die siel, deur sienerskrag verryk,
Deur liefde tot geloof versterk,
Vind skoonheid orals waar hy kyk,
Volmaak, verheerlik, onbeperk,
Selfs in die naarheid wat ons tart,
Selfs in die haatlikheid wat terg,
Selfs in die owerlas van smart
Wat wanhoopsugte van ons verg.
O, vrees nie Skoonheidskrag sal faal,
Of dat 'n koue filosofie
Die soekende siel sal laat verdwaal
Of ‘keel-afsny vir poësie’;
Of dat die rollende tyd sal taan
Die moed om teen wat vuilheid is,
Te stry, totdat jy eind'lik staan
'n Siel-ontroofde Hedonis,
Vir elk wat met besielde oog,
Met pure liefde, om hom kyk,
Dra wat hy aanskou, omlaag, omhoog,
Die skoonheid wat sy siel verryk,
En, van die waarheid wel bewus,
Word deur die soekende siel verfyn
Waarop nog smet of vuilnis rus,
Tot iets wat heilig is en rein:
Die valse vlek, die krom, verkeerd-
Gebroke lyn, die kleure grof,
Die afvaltoiings, tyd-onteerd,
Die modder en die wapadstof,
| |
[pagina 229]
| |
Al wat verwoesting as syne eis,
Al wat verdoemenswaardig is,
Waarop ons met veragting wys
As aanstoot en as ergernis,
Waaroor verderf sy naarheid strek,
Waaraan die knaende tyd al vreet,
Wat nie meer lewe hou of wek,
Wat skaars nog iets van lewe weet -
Daarin, hoe uiterlik onrein,
Of hoe onedel en ontkrag
Dit oppervlakkig ook mag skyn,
Bespeur die siel die skoonheidsprag,
Wat eie onsterflik' waarde het
En in sy eie glorie staan,
Soos op 'n hoë minaret
In môregloed die goue maan.
Die mensegees gryp, kennisblind,
Na wat veraf as waarheid skyn,
Klaar om in hartstogwaan te vind
'n Spoor van wat as skim verdwyn;
Waar mensewete, kort gesnoei,
Verkeerd die valse waarde min,
En dink die kiem sal kragtig bloei
En met sy eie mag oorwin,
En die skraal klatergoud beskou
As suiwer, edele metaal
Waar môregloed oor spinrakdou
In die betowerde kloof verdwaal,
Daar vind die siel, gelouter, vry
Van vrees, vooroordeel en van lus,
Die waarheid wat sy waarde kry
Van skoonheidskrag wat in hom rus.
'Skoon taal vertolk
Die puur genot wat skoonheid gee,
Net soos die swewend, dons'rig wolk
Die watermag van die diep see
Verkondig, of
Die murmel van die môrewind
Sag oor die duin die dag se lof
Verkondig eer dit weerklank vind -
| |
[pagina 230]
| |
'Skoon fluitgesang
Met wonderlike akkoorde paai
Die huiwerige hart wat bang
Vir lewensmart besluitloos swaai,
En harmonie
Weer troos kom skep, waar twyfel eers
Die stempel van die tragedie
Gedruk het, waar verwarring heers -
'Skoon kleure verf
Die heerlike sonsondergang
Waar in die wes die songod sterf,
Met bont van pers en blou oorhang,
En die oseaan
Wat hyg benee die wonderprag
Van kleurskakerings wat vergaan
Al stadig in die skemernag -
Nie één van dié,
Musiek nòg woorde en kleure, kan
Die innerlike harmonie,
Die wese van die skoonheidsplan
Verklaar nie. Krag
Om te besef wat skoonheid is,
Lê in die siel wat skoonheid ag
As sy onsterflike erfenis.
Bruin en violet,
En die blou van die ametis deur die reën
Verdonker, met groen van gras daarteen,
Die vroeë rooi van die maermanblom
En die sonvrindbloeisels, bont alom -
Dit en meer oor die wêreld het
Die najaar vorst'lik uitgesprei
As sierlik kleed oor veld en vlei,
Oor elke helling en bulterand,
Rivier se wal en rooi duinsand -
Weeld'rige weelde, ryker dan
Ooit Salomon's troonsaal of die vat
Van die priesterkonings van Ispahan,
Juwelevol, kon toon as skat!
Swart en violet,
En die groen van 'n geil-versierde kloof,
Oorlaai met die najaar se klimoploof,
Groener as ooit die see
Of die glans van 'n gloeiend smarag kan gee;
En rooi soos die rooi kleur van die bors
Van 'n bosveldvoël, of die kleur wat kors
Op 'n nuut-geplengde plas van bloed;
| |
[pagina 231]
| |
En swart daaragter, daarnaas, soos roet,
Of die swart van 'n holte, diep en bang,
Waaroor die skaduwees dreigend hang;
Swart en violet,
Blou en beril-gekleurde vlekke,
En perlemoen-verbleekte plekke;
Hier met silwer, skaars aan skitter,
Daar met bleek as wit en witter;
Hier met goud wat kolle geel
Elke oomblik skielik teel;
Daar met karmosyn se weelde,
En met van die son gesteelde
Prag van skimmer, wat, gebore
Uit 'n groter prag tevore,
Stadig teer tot niks en kwyn
Tot 'n gloed van kleur van wyn.
Die Gode wat aan ons
Vir huil, as hier benee
Die Noodlot op ons frons,
'n Vloed van trane gee;
Die Gode wat kan skink
Die kelk vol bitter gal,
En vir ons aanspoor: ‘Drink,’
En vir ons hoon: ‘Staan pal,’ -
Die Gode wat ons tart
In gloriesonneskyn
Met skaars uithoudbare smart
En skaars verdraagbare pyn; -
Die Gode wat ons pla
Met twyfel of die vrind
Wat dood is, weer hierna
Die vloek van lewe vind -
Het aan ons vir 'n troos
Wat alles kan vergoed,
Al bly die Noodlot boos,
Al drup ons hart met bloed,
Vir aalmoes aan ons siel,
Vir bystand in ons wee
As smart ons vreug verniel,
'n Gawe Gods gegee -
| |
[pagina 232]
| |
Die gawe om te besef
Daar leef onsterflik deur,
Hoe wreed die Noodlot tref,
Hoe jammerlik ons treur, -
Die Skoonheid met sy prag,
Die Skoonheid, rein en groot,
Trou soos die liefdeskrag
En sterker as die Dood.
Stadig, soos seemis wegrol van die see,
Sy statige gordyne deur die son
Verwasem, tot die optrek daarvan gee
'n Kans om weer, bo die asuurplafon,
Veraf, die wit halfmaan van Bloubergstrand,
Met bulte agter deur die reën vergroen,
En digterby ou Papendorp se sand,
En die blink baai se skitterperlemoen
Waar branders speel-speel met strandrotse veg,
En die bruin skadu van die hawehoof
Te sien, so rol die bergmis stadig weg
Oor bult en dal, oor helling en oor kloof.
En as dit langsaam wegtrek, openbaar
Die wêreld onder, nat met môredou,
Sy rykdom, deur die somer opgegaar
En na die milde najaarsreën ontvou.
Groot plasse groen toon waar die nuwe gras
Met jeugdige groeikrag opskiet, smarag-rein,
Gevlek met kleur - die wit van waboom-as,
Die helder bont van die rooi bloedrobyn,
Die geel van goud en nog meer donker geel,
En ligter verf van lila en lelieblou
Van suringkolle wat so weeld'rig teel
Hul blomtapyte ná die somerrou,
En mosaïek maak oor die veld en sprei
Hul pragte uit ten toon, son-gierig, geil
In kleurepraal. Ver onder op die vlei,
Waaroor die donsrige, dun windwolkies seil,
Pryk wit die geurige wateruintjie-oes
En watersuring en die varkblomblaar
Met sy verniste groen waarteen die roes
Van die rooi kleigrond afsteek; aanmekaar
Staan dennebosse, somber, donkerswart,
En eikebome, half ontblaar, wat treur
Oor die verlore warmte wat die hart
Van somer mild gestort het, en die geur
Van blom en blaar as offerande swaai
Oor na die see wat bydra om sy deel
Van wierook as 'n wasem oor te waai
Die wêreld in. Daartussen, groen en geel,
| |
[pagina 233]
| |
Pronk huis en praggebou, die deurmekaar
Van die ou moederstad met straat en laan -
Ou moederstad wat driemaal honderd jaar
Gestaan het in sy skoonheid, en nog staan
Trots in sy ou tradisie, wat nòg tyd
Nòg teenstand van sy afvallige ketterkind
Kan buig of breek of stadigaan verslyt
Eerdat hy deur volharding seë vind.
Die siel kyk neer op wat die wêreld toon,
Die fraai verskeidenheid van vorm en kleur
Op bergland, waar nog môrewasem woon,
En laagland met sy blommeprag vergeur.
Regs rys die swart massief van Duiwelskop
En links die skier gelyke Tafelberg;
Dan Leeukop met die ou vlagpaal daarop,
In die grys môrewasem half verdwerg.
Daaragter die Atlantiese Oseaan,
Met Robbeneiland as 'n grys-grou lyn;
Links vóór die baaistrand, waar die branders slaan,
En die halfmaan van water met sy skyn
Van glinster wat die oog verblind as 't waag
Om op sy glorieskynsel neer te kyk;
En verder weg, deur krans en bult geskraag
En deur die waas en son met kleur verryk,
Lê vorstelik in hul statige majesteit
En pragtig met hul môreprag, beklee
Met sonlig wat aan kranse, tyd-verslyt,
Die glans van gepolyste klippe gee,
Met lommerbos wat afsteek teen die blou,
En punte blink soos skitter van diamant,
En skadu-donker klowe in môregrou,
En hellings swart en asvaal afgebrand,
Die ringmuurberg se hoogtes. Haelkop kyk
Oor Simonsberg en Helderberg se prag,
En Hotnotshollands tandgekerfde ryk,
Met Hangklip deur die see se waas versag;
Die tweelinghorings van Jonkershoek, die glad,
Gelyke rand van Sneeuberg met die groen
Van Groenberg en die rif waaroor die pad
Na Worcester stryk, lê deur die son geboen;
En verder, Ontong se geheime spits
Kort afgekap, waar, soos die Slamse sê,
Die towergeeste onweer maak en blits
Laat uitskiet uit die krater wat daar lê,
Met uitspring-berge naasaan, punt en tand
Wat opsteek na die blou lug, blink en blank
Van kleur wat amper lewe en die land
Tot 'n mirakel van 'n wêreld maak;
Dan Tulbaghs skurwe berge wat eenkeer skuil
| |
[pagina 234]
| |
Verleen het aan Stefaans Barbier - die spook
Wat by die kruispad in die maanlig huil
As die transportryer se aandvuur-rook,
Met blou renosterbos se doodgaan-geur,
Hier langsaam opwaarts krul, is syne; hy
Besoek nog hierdie wêreld, waar hy treur
Omdat sy lyk nou nimmer rus kan kry -
En Wintershoek se punte met die wit
Van nuut-gestorte sneeudons dik bedek,
En die pronk-Sederberge, in gelid,
Wat reuse-sandsteenkranse boontoe strek,
Die Hantamhoogtes agter tot daarbo,
Waar noordwaarts najaarsprag die veld versier,
Die eeue-ou, vergrysde, vaal Karo
Sy arms wyd uitrek tot die Groot-Rivier.
Kyk regs, daar lê die krom van Valsbaaikus,
Met duinsand en die weelderige wins
Van vlaktes, met die koepelgraf waar rus
Die ballingvors van Bantam, priesterprins,
Die heilige Jussuf.
Waar die minaret
Die son se strale vang en oor die see
Na Bantam kyk, daar het hy in gebed
Gekniel en, in sy pelgrimsdrag geklee,
Die water van die put wat aan Sem-sem
Herinner, uitgestort, met stille smart
Sy hartstog vir sy tuisteland getem,
Totdat sy droef-verbreekte priesterhart
Nie meer kon klop nie.
Waar die duin se geel-
Groen bossieryk gesny word deur die pad,
Lê klein tuinplasies, sag in groen fluweel
Van groente en van saaigoed sedig glad -
'n Deurmekaar van wei- en duinland-ryk
Wat luisterryk in lentesongloed lag.
'n Weelderige wêreld wat hier pryk
In die volmaaktheid van sy najaarsprag!
Kyk weer en tel die dorpe wat daar troon:
Sarepta, Stellenbosch en Durbanville,
En Riebeek-Wes, wat teen sy bergskans toon
'n Vredevlek waaroor blou wasem tril;
Die Pêrel met sy dubbel pêrelklip,
Geslypte blou graniet, waaroor die son
Met skitter-glansende weerkaatsings glip,
En links daarvoor die tuin van Wellington.
Dis algar kinders van die Moederstad
Wat, deur die môregloed gewas, benee
| |
[pagina 235]
| |
Lê uitgestrek, 'n sieraad en 'n skat,
'n Pronkjuweel, geliefkoos deur die see.
⋆
O Moederstad, O bakermat
Van wat ons liefhet en bemin,
Van wat ons as die hoogste skat
Om voor te worstel tot ons win,
Jou kinders aan jou sy geskaar
Staan vir die liefdesarbeid klaar!
Vir reg en vryheid, eer en plig,
Vir al wat edel is en rein,
Met liefde wat ons siel verlig
En moed wat soos die sterre skyn,
Kan ons geduldig met jou ly
En saam met jou tot uitkoms stry.
Wyd strek die vlakte sonbestraal,
Hoog troon die trotse bergemuur;
Waar orals ook jou kinders dwaal
Van dagbreek tot die sterwensuur,
In tuistevree of ballingsmart,
O Moederstad, jy hou ons hart.
Nie trots, gegrond op afkomsroem
Van vors en koningsprag vergaan,
Nog ydele waan deur tyd verdoem
Tot stof deur weer en wind verslaan,
Is wat ons in ons liefde wy
As wapens om jou stryd te stry.
Ons bring ons hulde wat onthou
Die swaar beproewing van voorheen,
Ons liefde wat in prag ontvou
En nuwe krag tot arbeid leen,
Ons bring ons trou, ons troos, as tiend
Ootmoedig tot ons plig gediend.
Van hoë Hangkliprots tot aan
Die oewers van Sambesie geld
Die voorbeeld wat as leidster staan,
Waarteen die wrede tydsgeweld
Wanhopig stoei, en wat ons eer
As dierb're erfstuk van weleer.
Die planterswerk is afgedaan,
Die las geskraag, die stryd gestry,
Die stroom gebrug, die pad gebaan,
Die bloed gepleng, die smart gely -
| |
[pagina 236]
| |
Maar voor lê nuwe werk wat wag
Op nuwe volksvolhardingskrag.
O Moeder met jou liefd besiel,
Deur liefdeswonderkrag versterk,
Wy ons, jou kinders wat hier kniel,
Ons hart, ons lewe aan jou werk,
Tot batig wins die stryd betaal
En heerlik blink ons ideaal.
O Moederstad, ontvang ons. Maak
Ons gees getrou om voort te stry,
Bekwaam ons vir die toekomstaak,
Dat ons, met hart en siel gewy
Aan eer en plig, met eerlikheid
Triomflik van die daad ons kwyt.
Gee ons die krag wat sonder krimp
Die stryd deurstaan, die las kan dra,
Standvastig bly deur hoon en skimp
En nimmer beed'laarsaalmoes vra -
Die krag wat van homself kan leen
Genoeg vir uitkoms en vir seën;
Gee ons die ootmoed wat vereer,
Die riddersiel wat louter reg
Bo onreg kies tienduisend keer,
En vir die slaaf en swakling veg;
Gee ons die onverskrokke hart
Wat groot kan bly selfs in sy smart.
⋆
| |
Stellenbosch.Ek, oudste kind, o Moederstad, ek eis,
Nou mondig en vir eie poging sterk,
My aandeel aan die werk
Van aanbou en verfraai van ons paleis -
Ons volkspaleis waarin
Elk van jou kinders, watter taal hy praat
En watter ideaal hy ook bemin,
'n Plek kan vind, bewus
Van moederliefde wat tot owerdaad
Kan wegveeg en vergewe wat ontrus,
En aanspoor tot hernude poging wat sal win.
O Moederstad, my eikelane kyk
Terug in die ver verlede, en ek vra
My voorreg om te dra,
Saam met my susterdorpe, liefderyk,
| |
[pagina 237]
| |
Die las van volksbestaan,
En met hulpvaardigheid wat trou bewys,
En liefd wat tot lankmoedigheid vermaan,
Te steun, te skraag, te sterk
Al wat daar is wat werklik roem of prys
Sal werd wees in die toekoms in ons werk -
Ek, Moederstad, jou kind wat werkklaar naas jou staan.
⋆
| |
Pêrel.My wingerde bewys my weelde, en ek roem
My skoonheid wat van ouds die Pêrel word genoem.
My ankerangels steek diep in die veraf lande,
In Hugenote-erns en Geuse-offerande;
My tong was eers gekrom om vreemde taal te tolk -
Ek, vreemdeling, verhuis onder 'n vreemde volk,
Ek, aangenome kind wat in die huisgesin,
Deur liefdeplig versterk, my eie plek kon win -
Ek kom vandag en bring my skoonheid en my prag
As tiend en huldetol, as wat ek waardig ag
Om aan te bied as kind, hier uit my ryke skat,
As teken van my trou, aan u, o Moederstad.
⋆
O Ararat, o Ararat,
O dou-bepêrelde Ararat,
O blom-vergeurde kloof en dal
Van wolk-bekroonde Ararat!
Die Mobedpriester prys Elwend
En Ekbatana's reënboogmuur,
Waar die tweeduisend-jaar-oud Send
Gelees word by die eew'ge vuur.
Die Lama kyk na Everest
En draai sy bidwiel, afgemat;
Die ooste vang die dag; die wes
Hou vas die lig op Ararat -
Op Ararat, op Ararat,
Op lig-bestraalde Ararat.
Nòg wat die Mobed met sy vuur,
Nòg wat die Lama met sy wiel
Bely as elk sy lot verduur,
Bring sterker trooskrag vir die siel
As hierdie afkyk oor die rand
Op wonderwye velde nat
Met môredou, oor see en land,
Hier op die kruin van Ararat -
Van siele-troostend Ararat.
| |
[pagina 238]
| |
Hier is 'n nuwe Ararat
Wat selde ooit die sneeu sal soen,
'n Ryk-beplante helling, sat
Met kleurebont en najaarsgroen,
Met klowe diep en kranse fier,
Rooi rotse deur die wind verglad,
Met krulkrans en klimop versier -
'n Nuwe, reine Ararat.
O Ararat, o Ararat,
O ryk-versierde Ararat.
O, wie sal jammer as die dag
Versuip in donker skemerrou,
Wie angstig spartel as die nag
Sy troostend sterrelig ontvou,
Wie glo die Dood is laaste sien
Van lewe en van alles wat
Die mens deur wat hy is, verdien,
Hier op die kruin van Ararat?
Van Ararat, van Ararat,
Van lewevolle Ararat!
Geen ark het hierso vasgesteek,
Geen duif het hier gaan land spioen,
Geen haelbui hier die lug verbleek,
Geen vloedreën veld en kloof ontgroen.
Hier blink die blomme teen die blou,
Hoogmoedig in hul kleur, en nat
Met heerlik, helder môredou
Op Ararat, op Ararat,
Op groen-omsoomde Ararat.
Sag blaas die wind sy basbasuin,
Sag slaan die see die strandsand plat;
Die sonskyn skitter op die kruin
Van Ararat, van Ararat,
Van blom-vergeurde Ararat.
⋆
| |
Wellington.Vergaar die sag donsspinnerak
Wat met doudiamante druip
En af oor die groen heesters sak
Eerdat sy vlugtige praal versuip
In sonlig van die son -
Die son wat nou nog skaars kan troos
Die rooi blomblare van die roos,
Wat skaars nog kans het om die ruik
Van tuin en veldblom te ontluik
| |
[pagina 239]
| |
In geurige wierookgeur wat vind
Sy reukvatswaaier in die wind -
Die wind wat waai oor Wellington.
Dek met die ligte wintersdraad
'n Fyn mirakellugpaleis,
Wat die boumeesterskuns versmaad
En boontoe na die hemel reis,
Na daardie blou plafon
Wat wolkeloos met lig belaai,
Met waat'rige saffier besaai,
Hom uitstrek bo die verste rand
Van hierdie heerlike bergeland,
Waaroor die môremis verslind
En opgeraap word deur die wind -
Die wind wat waai oor Wellington.
Verryk dit met die swart robyn,
Die geisshoriza's blink beslag,
Wat sag soos kinderoë skyn,
En met die aristea's prag
Wat in die vroeë son
Sy skitterblou - meer heerlik blou
As wat ooit Sidon's weefgetou
Gelewer het - die veld oorsprei
Om aan te lok die heuningby
Wat murmelend en werkgesind
Hier aangewaai word deur die wind -
Die wind wat waai oor Wellington.
Tapyt dit met die sy-fluweel,
Die lewendige goud wat glans
In die galaxia se keel
Wat need'rig bloei benee die krans
Naby die waterbron,
Met rooi van die nerine-blom,
Met blink bruin van die barnsteengom,
Met die morea's persblou kleur
En koekmakrankas wit vergeur,
Waaroor, soos met sy maat 'n kind
Speel, speel die vroeë môrewind -
Die wind wat waai oor Wellington.
Behang dit met die bont satyn,
Vernis totdat dit glans en gloor,
Van suring en van kelkiewyn,
Van vygie en wilde-ridderspoor
Wat in die vroeë son
Rondom in heerlikheid hul prag
Die wêreld toon en vir die dag,
| |
[pagina 240]
| |
Ryk uitgedos tot owerdaad
In rykste, skoonste kleurgewaad,
'n Welkom aanbied as 'n vrind
En vir die sagte suidewind -
Die wind wat waai oor Wellington.
O my verbeeldings-pronkpaleis
Van wintersdraad en spinnerak,
My kleur-volmaakte paradys,
Met pragtige, grootse koepeldak,
Die pure blou plafon,
Sal ek jou ooit verwesenlik?
Of moet die punt waarop ek mik,
Wat nou so helder, duid'lik skyn,
In wasem soos 'n skim verdwyn,
Sodat my siel geen houvas vind
En voortwaai, moedeloos, op die wind
Die wind wat waai oor Wellington?
| |
Tulbagh.Die berge troon oor Roodesand
(O, vir my liefde sal ek stry!)
Ou Roodesand, ou Roodesand!
Soek deur die land, die hele land,
En kyk of jy kan kry,
Van Tafelbaai se skulpestrand
Tot Winterhoek se kruin,
'n Beter plek as Roodesand,
Ou Roodesand, ou Roodesand,
Ou Ryk van Tulbagh's tuin!
Die najaar lag oor Roodesand
(O, vir my liefde kan ek ly!)
Ou Roodesand, ou Roodesand,
Die najaar wat sy glorie plant
Op helling, vlakte en vlei,
Wat groen maak elke bult en rand,
Voorheen net grys en bruin,
As sieraadpronk vir Roodesand.
Ou Roodesand, ou Roodesand,
Ou Ryk van Tulbagh's tuin!
O, wonderskoon is Roodesand
(My liefde is oorgenoeg vir my)
Ou Roodesand, ou Roodesand!
En heerlik mooi die hele land
Daar rondom uitgesprei,
Met sneeu nòg silwerwit bestand
| |
[pagina 241]
| |
Bo Winterhoek se kruin
As koningskroon vir Roodesand.
Ou Roodesand, ou Roodesand,
Ou Ryk van Tulbagh's tuin!
Dis middag, twaalfuur; van die bult daar links
Klink skel oor stad en vlakte en slapende see
Die middagskoot van die ou bergkanon.
Dit skud die baksteen van die sjeik se graf
Wat oorkyk na die bergmuur in die noord,
En tril teen krans en helling waar die spreeu,
Gestoor uit middagdrome deur sy klank,
Onrustig roep, en die klein tortelduif
Wat knik-knik voortstap, op geskadude grond
Sy saadkos soek; in kloof en bergvallei
Vind dit 'n weergalm wat al sagter dreun
En eindlik wegsmelt in die middaglug.
'n Najaarsmiddag met sy wolkeloos blou,
En met sy rein, verkwikkende najaarslug
Wat, koel soos die sefiere wat versprei
Op hoogveldvlaktes voor die môreson,
Die land met warmte pleng, 'n boodskap bring
Van suidpool-ys wat drywe op die see.
Die woelige stad, bedrywig soos 'n man
Wat tydsvergaan besef en met sy tyd
Wil woeker tot hy uitkoms win, lyk stil,
Amper bedaard en amper sonder stem -
En selfs die see, wat altyd sidder en woel,
Lê rustig, amper roerloos, in die son.
Die sjeik se graf kyk oor na Helderberg,
En Hotnotsholland se getande rif,
Gevlek met skaduwees, tot waar Hangklip waak
Oor die groot see wat tot die ewenaar
En die tienduisend Indiese eilande
Sy watervlakte uitstrek. Daarvandaan
Het hy gekom, die heilige sjeik wat rus
Hier in sy gewyde graf. Die hart wat treur
Oor wat verloor is en wat hoopvol wag
Op eindelike seë in die stryd,
Jaar-in, jaar-uit, was syne, en die siel
Wat tot die einde uithou sonder breek,
Was syne ook. Die middagson wat straal
In volle goudglans oor sy heilige graf,
Is al die hulde wat volharding win.
Die skaduwees word al langer oor die bult,
Vaal-donker skynsels wat oor skerper groen
'n Grys-dof sluier trek, waarteen die skyn
Van wat van sonstraal oorbly, tingerig, koud
| |
[pagina 242]
| |
- Asof hyself bewus is van verwelk
En ondergaan - skerp afsteek in die vlek,
Nog blink verguld, wat aangrens aan die groen.
Bo in die lug, nou bleker blou gekleur,
Swem tere verewolkies in gelid,
Een vir een, 'n heirskaar uitgesprei
Reëlmatig, wit soos skuim wat branders kroon
Op winderige dae - wolke wat beduie
Die doodgaan van 'n mensesiel, belaai
Met skuld wat afgeskud word deur die Dood.
Nog langer rek die skaduwees; aanmekaar
Versmelt die donker vlekke, en die goud
Kwyn in die laagtes en word uitgedoof
In kloof en enge straat; die hoë punt
Van huis en toring pryk nog met die gloed
Wat bo die ringmuur van die berge rus.
Al dieper daal die son; die dowwe see
Word met sy sterwenskleure oorgeverf,
En heel die weste gloei in glorieprag,
Verheerlik deur sy heengaan. Helder skiet
Die kroonkleurstrale lynreg uit die see
Op na die blou wat net 'n oomblik eer
Nog bleker was as die bleek see se vlak,
En nou in kleure pronk. Rojaal in rooi,
In geel wat geler as die suring spog,
In blou wat blink soos donkerste beril,
In die pers tinte van aquamaryn,
In peridot se groen en perlemoer,
In leliewit van wolke nog verlig,
En lanferswart van skaduwees op die see,
Lê pragtig in sy sterwenspronk gesprei
Wat oorbly van die dag; die ronde skyf
Van die blink son, waarop, selfs in sy dood,
Geen oog kan kyk, sink agter in die see,
En langsaam, net soos iemand wat verwyl,
Onwillig om sy winste af te staan,
Met teensin talm en telkens terugkyk, trek
Die kleure weg as die groen skemer groei
En oor die wêreld hier sy heerskappy
As voorleier van die nag se harder swart
Verkondig en die laaste straal doen taan.
Sonsondergang se skoonheid, heerliker
As die sonsopgang in die môregrou!
Die skemergroen, stiefsuster van die Nag
En Daeraads volle niggie, uit die dag
En duisternis gebore, stort oor strand
En veld en vlei en duin en lae land
Sy groen, en doof die blink weerkaatsing waar
| |
[pagina 243]
| |
Die bergtrans nog die dooi sonstraal gewaar.
Dit martel dood die vorstelike pronk waarmee
Die dag se rou Sonsondergang beklee;
En, op die laaste vonk van lig jaloers,
Versluier die plaaswerf met sy sagte floers;
Ontroof die see van rimpelgoud, die pad
Van silwer; en maak donker in die stad
Die lewendige straat waarin die lig
Gestadig en onwillig voor hom swig;
Eis van die heerlike lewe van die meer
Die slaafse gehoorsaamheid wat hy begeer
Van al sy onderdane, en onttrek
Aan heining en muurpilaar en hoë hek
Hul eie selfstandigheid, sodat hul daal,
Aaneengesmelt, verlore in die vaal
Van sy gordyn wat met sy groen versag
Die harde, growwe hardheid van die nag
Wat gryns daaragter sy groen waasfluweel
En netnou van hom al sy glorie steel.
Nou eer die aandster skitter en die maan,
'n Blink verligte sekel, in sy baan
Agter die bergwand sierlik troon, behou
Hy nog sy heerskappy van sag-groen rou
Wat die gevoelige wêreld kan waardeer
Voordat dit langsaam tot die donker keer -
Die donker wat gereed staan om te roof,
En, wat hier skyn en lig het, uit te doof.
Die stille nag
Praat met die fyngevoelige verstand
In fluisterspraak, soos oor die strand,
Met melodieë mat en sag,
Die seewind oor die skulpe sing.
Dit praat van vrees,
Van donker dinge wat leweloos
Daar staan op wag waar sonder troos
Die afgematte, doodryp gees
Sy lewenslus ter ruste bring;
Dit praat van moed
Wat vrees kan omskep en verwerk
Totdat dit, deur gena versterk,
Ontvlam tot wat ons leed vergoed
En diep tot in die siel kan dring.
Die stille nag
Is klankvol met die pragkoraal
Waarvan die sagte nagalm daal
| |
[pagina 244]
| |
Op wie geduldig, luist'rend wag
Met siel gestem vir wat hy sing.
Voordat ek gaan
In hierdie leegte van swarte onmeetlikheid:
Leen my 'n tyd,
Al is dit maar 'n rukkle, 'n oomblik staan,
Om weer te kyk
Na hierdie najaarsprag van goud en kleur,
Die wierookgeur
Wat hierso sweef te ruik eerdat ek doodbeswyk.
Ons lewe, deur die jare heen,
Is soos 'n ligglans wat verdwyn
In skemer wat die nag verleen
Voordat die volle maanlig skyn -
'n Glans wat net genoeg is om
Te wys die Weg wat ons betree,
Voordat die nag se donker kom,
En voor die Dood ons vrede gee -
Die Weg wat deur die wêreld lei,
Die sterre en komete oor,
Die lug-omgorde heelal verby,
En verder as die donker vóór.
Die lewe wat ons doen beperk,
Is soos die skietende ster se straal:
'n Oomblik glans van gloriewerk,
Dan nag waarin die siel verdwaal;
'n Bietjie ywer wat probeer;
'n Arvaalfees van vreugdesmart;
'n Greintjie glorie wat vereer;
'n Gouer hartklop van die hart;
'n Kort sekond van pure wee
Wat eeuelank met wanhoop is,
Voordat die Dood verlossing gee
Van elke lewenshindernis.
Maar of daar voorlê stryd of smart,
Of pyn en worst'ling, leed, berou,
Of hartseer wat die hardste hart
Met wreedste folter-eina klou,
Hy wat die Weg met dapperheid,
Met ootmoed en met moed betree,
Gewapen vir die lewenstryd,
Vind eind'lik op die Weg die vree
Wat, eer die sterrewonderprag
Die skemer groen met lig verbleek
Tot luister van die middernag,
Hernude sielsgenot sal kweek.
| |
[pagina 245]
| |
Die Weg? Is elke lewensbaan,
Sekuur teen Noodlots stoot of swaai,
Net soos die ligkomete gaan
Wat stadig in hul kringe draai?
Sy looppad so vereffend, glad,
Dat niks hom stoor of hinder nie,
Geen struikelsteen, geen vlek of klad,
Geen wanklank in sy harmonie
Van siel en liggaam wat die werk
Van lewe doelloos-ydel maak,
Geen hartstog wat sy krag beperk,
Sy vaste fondament laat kraak?
Wie sal dit wys, die ware Weg?
Of waarsku teen die uitdraaipad?
En sê of wat ons waarde aan heg,
Meer werd is as 'n Sodomskat?
Die dou verdwyn, die môremis
Verwasem, en wat wese het,
Vergaan tot niks in duisternis.
Die Weg bly oor - die Weg geset
Vir iedereen wat in sy siel
Vir waarheid en vir skoonheid voel,
En wat kordaat van hart kan kniel
As dood en donker om hom woel,
Omdat hy weet die Weg sal lei,
Hoe kronk'lend ook sy slingergang,
Al loop dit deur die Doodsvallei,
Deur klowe waar die donker hang
Soos dik gordyne wat geen vonk
Van sterrelig laat deurglip nie,
Tot vrede en rus, waarteen die pronk
Van lewe en stoflike energie
Lyk soos die uitgedoofde as
Van vars verbrande hout wat koud
En kragt'loos op verskroeide gras
Lê in die son se môregoud.
Nag - middernag, en tog nie donker nie,
Maar heerlik in sy pragtige harmonie
Van lig en skadu, rus oor veld en see,
Oor stad en dorp, oor bergmuur en oor bult.
Met duisend ligte wat sy swart verguld
En nuwe glorie aan sy aanskyn gee,
Pryk onder in die duisternis die stad
Met duisend, duisend ligte, asof hy
Met die pragsterre wat daar blink, wil stry.
Die groot elektriese lampe langs die pad
Skiet helder strale uit, wit, goud gekleur,
| |
[pagina 246]
| |
Of rooi of bleker bottergeel, wat deur
Die vogtige naglugwaas uitpyl en trag
Om te wedywer met die sterreprag.
Bo in die swart-fluweel-behangde krom
Van die uitspansel deur die maan verlig
- Die maan wat opklim bo die bergekom
Met sy blink-bleek nog sekelaangesig -
Daar skitter die ontelb're sterreskaar:
Orion, Ara, Sirius, Achernar,
Antares met sy rooi wat orals skyn
Die wêreld oor en eers met daglig kwyn;
Formax en Cetus, Formalhaut, Al Fard,
En Beta crucis, Betelgeus se hard
En skerpgepunte glinster; elke straal
'n Steekpunt in die duister, met die vaal
Verspreide wit lig wat die melkstraat leen,
Rondom verstrooi, 'n sagte, glansryk seën
Wat op die hemel in sy glorie rus
En die stil middernag met vrede sus.
Soos een oor wie se oog 'n pêrelvlek
Al stadigaan sy ragfyn sluier trek,
Wat met die krag wat nog tot kyk kan dien,
Rondom die kerslig reënboogkringe sien -
So staar die siel met sagte mymering,
Weemoedig soos 'n vriend wat hulde bring
Met vriendeliefde en treurgewyde traan
Aan die afgestorwe vriendskap wat vergaan
Om groter, geiler, met hernude prag
Te bloei in die herinnering aan sy krag
- Die krag wat alles wat hom teenhou, tem,
En seëvier oor wat die liefde rem;
Die krag wat sonder end is of begin
En teen die Dood die laaste slagveld win -
So staar die siel met sagte mymering
Neer op die omhulsel wat eers syne was:
Die jongelingsliggaam op die najaarsgras.
Die Siel wat stil bly staan het en die gang
Van dag tot skemer, skemer tot die nag,
En nag tot daeraad se verligte prag,
Die stadige verandering
Van goud tot groen, van groen tot swart wat vang
Die luistersterre in 'n strik, die pyl
Wat deur die môreson geskiet word oor
Die bergmassief se hoogtes, groots en steil -
Toe aanskou het, en die koor
Van môrevinke wat met vreugde sing,
Gehoor het, voel die rusteloosheid wat dwing
Na wyer, grootser velde, waar die mag
| |
[pagina 247]
| |
Van Dood en van Verderf nie meer 'n prooi verwag;
Die Siel wat treurend, peinsend by die lyk
Gebly het en die draai van dag tot nag,
Van nag tot middernag se glorieprag,
Die stadige verandering
Van gloed tot groen wat onder swart beswyk,
As bo die sterre in kring
Een na die ander, glansend, wonderlik
Te voorskyn tree en met hul strale mik
Neer op die kliprak waar die liggaam rus -
Gewaar het, rys omhoog
Met sierlik-langsaam, sedig-statige swaai,
Soos 'n dun bergwolk wat die wind verwaai,
Of wat die warm lig van die son verdroog
Tot uitgerafelde wasem langs die kus
Van tropiese eilande op die ewenaar,
Waar warmte met die see gedurig stoei
En die windwolk net vir 'n oomblik bloei.
Omhoog, op in die onmeetlik, eindloos swart
Wat vir die menslike verstand,
Beperk tot die begrip van menslik meet
In myle, grade en minute, tart
Met sy onmeetb're ruimte wat geen hand
Kan skat nie, rys die Siel wat reeds al weet
Wat ruimte en tyd beteken, maar nog gis
Wat daar geheim lê in die duisternis,
En antwoord kry op vrae, lastig, vaag,
Wat lewe en die lus vir lewe, traag
Deur ondervinding uit te vinde, vra
Eentonig, ongeduldig, wat hierna
Gebeur, en wat daarbowe bo die blou,
Of onder in die swart die Noodlot hou,
Geheim van haat of heuglike bestaan
Vir wie die Dood se hand wink om te gaan,
Die stelsel van die hemelse heelal,
Die doel van koms, ontwikkeling en verval,
Van ouderdom se pynlike struikelgang,
En jeug se fiere, vrolike gesang,
Van dood en van verwelking, van die knyp
Van puur ellende wat geen mens begryp
Of ooit deurgrond nie: Waarom grys en pyn
Die louter menslike skoonheid laat verkwyn,
En skoonheid, ewigdurend, met sy skoon
As maat van wat afgryslik is, moet woon,
En liefde wat onmeetbaar is, moet ly
Onder 'n liefloos, wrede heerskappy;
Die diep geheime van die nag waaroor
Die wyse, vir geslagte aangespoor
Deur die weetgierigheid wat hits en terg,
| |
[pagina 248]
| |
Gepeins het om van kennis af te verg
'n Oplossing van ewige raaisels eer
Die Dood die sleutel wat die mens begeer,
Vrywillig skenk; die twyfel wat verskrik,
En hoop wat soos die lawende dou verkwik
Die moedelose siel wat hyg na heil,
En met sy klein verstand die dieptes peil
Waar die begrensde, grensloos uitgestrek,
Tot ruimte oneindig, liglose leegtes rek.
Daar in die ethereensaamheid
Wat grensloos uitstrek, hoog en wyd,
Waar lig en donker duister faal
En die dooi, liglose ster verdwaal,
Waarin die skitterende komeet
Sy krom ovale gang vergeet;
En die atome uitmekaar
Gesplyt word en dié opgespaar
Vir eeue deur vereende krag
Tot niks vergaan in middernag;
Waar ruimte en gewig en tyd
Versink in die oneindigheid,
En koue, killer as die kou
Wat Noordpool-ysgelyktes hou,
Met kleurloos etherdroesem grou
Sy mag oor alles heen ontvou;
'n Ryk ontbloot van lug en land,
Wat nooit die menslike verstand
Wat die kringloopbaan van planeet
Of waggelster presies kan meet,
En selfs die son se swaar gewig
Bereken uit sy kroon van lig,
Met watter maatstaf hy ook vat,
Of kennis wat hy het, kan skat.
Want nòg wat ons begryp van tyd,
Die groei van jare wat verslyt,
Wat lewe en rykdom rinneweer,
En skoonheid mors om eind'lik weer
Van uit sy toiings, vaal, verlep,
'n Nuwe skoonheidspronk te skep;
Wat wreed met sy verbygaan kwel
Die ou mens wat sy dae tel,
En vir die jongling se vinnige siel
Te stadig jaar en dag verniel;
Nòg wat as maat vir ruimte geld,
Nòg krag van stoflike magsgeweld,
Selfs nie die hoër krag wat skyn
In skeppingswanger bewussyn
Wat vir homself 'n pad kan baan,
Bestaan hier waar daar niks bestaan.
| |
[pagina 249]
| |
Tot in die ruimt'lose eensaamheid,
Rys statig op die Siel, bereid
Om, soos die druppels reën wat spat
Neer op die onstuimige see se nat,
Bereid is om hul waterkrag
Te meng met die oseaan se mag,
Sy eenheid en selfstandigheid,
Sy eie Ek, wat Dood nòg tyd
Kan breek of broksgewys verniel,
Met daardie groter wêreldsiel
Daarbuite die heelal se kring,
Volmaak, oneindig een, te ming.
|
|