Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende L In 'n gat daar onder die sukkeldoring Het 'n dwergie-man sy huis. Die mure daarvan is goudgeel klei, En die vloer van silwergruis. En die lampe is klein vuurvliegies, Wat skitter soos sonneskyn As die groen van die skemeraande val En die son se glans verdwyn. Die stoele is bergkristalle, Wat onder die liggies blink; Die tafel 'n groot wit paddastoel, Met sy steel in die gruis gesink. Die kussings is fynste wit kapok Uit tinktinkie-nes gesteel; En die deurgordyn is 'n mierkatvel, So sag soos sag ferweel. Hier lewe die dwergie die jare deur Waar niemand hom ooit sal stoor; En hy en sy vrou kom net maar uit Om water te haal uit die voor. En die kinders die sê as hul altwee sien: ‘Kyk daar loop die muisies gou!’ En hulle weet nie wat hulle muisies noem, Is die dwergie-man en sy vrou. Vorige Volgende