Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 215]
| |
Hier op my vuurtjie daar brand nog 'n tak,
Wit met die as wat so mooi is;
Rondom hom lê al die kole, verswak,
Gees van die vuur, wat nog rooi is.
Swart is die wêreld, maar groen in sy swart,
Purper en bruin oor die bossies.
Koel waai die windjie, vergeur tot sy hart,
Vol met die ruik van die klossies.
Koeler en koeler word alles en los,
Ryp vir die komende jare,
Swanger met bloeisels die waboombos,
Swanger met dou sy blare.
Ver in die ooste daar offer die son
Strale wat stry met die skade -
Netnou is oor my die bloue blafon,
Netnou die dag se genade!
|
|