Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 213]
| |
Hier is 'n perdeskoen, krom en gekraak,
Met die spykers daaruit en die gate vol gruis -
Is dit nou 'n speelmaat vir hompie tuis?
Hier is 'n padda wat slaperig sit gaap,
Duis'lig blind in die sonneskyn -
Nee, maar vir hom is potkleitjie te fyn.
Hier is 'n koggelman. Stadig, jou swaap!
Ek wil jou net kry om 'n speelmaat te wees,
En jy blaas al so hard: jy is amper al hees.
Hier is 'n skoenlapper, groen, wit en blou;
Flink in die son vlieg hy bowe die blom -
Dis nou 'n eersteklas speelmaat vir hom.
Nee, ek wil liewers potkleitjie behou -
Self met hom speel as hy speelmaat wil hê,
Self met hom praat as hy iets het te sê
Ouboet sê: ‘Jan, jou potkleitjie is stom:
Hy kan nie praat nie; hy is mos maar klei -
Net maar so dood soos die kors op die vlei.’
Ag, ek weet beter. Potkleitjie - vir hom
Is dit nie nodig om lewendig te wees nie:
Kan hy nie praat nie, hy is tog nooit hees nie.
|
|