Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 212] [p. 212] XLVII Verroes is sy loop, verroes is sy haan; Sy trekker is styf; sy korrel is plat; Sy waarde is niks nie; sy nut is vergaan. Hy's sat van sy skietwerk, sat. Arme ou roer! Gedaan, Afgelewe en afgewerk. Vroeër so mooi, so nuttig, so sterk: Nou is jou glorie vergaan. Wie wil jou hê, roer? Wie sal jou koop Met jou ou verroeste dubbelloop? Wie sal jou eer, roer, wie sal jou hou Vir 'n ding wat iets werd is nou? Moenie so praat nie! Wat weet jy Van die eer en die roem wat 'n roer behaal? In die veraf jare lank verby Het hul met my gepraat in 'n ander taal: ‘Flukse ou roer! My vrind, My maat en my maat se maat!’ So het my baas gepraat. My kind, Het iemand ooit so gepraat Met jou in die dae al lank verby? Het jy ooit so eer en roem gekry Vir wat jy gedoen het in die tyd Toe daar nood in die land was en harde stryd? Hang my op naas die rooi kruitblikkie - Hy was my maat in die ou tyd, kind. Ek laat niemand meer skrik nie. Selfs die kwikkie Kom sit op my loop en verklaar my vrind. Ek is afgelewe. Nou ja, Afgelewe en afgewerk - Ek wat vroeër so goed en sterk Saamgewerk het met die wa Daar in die woeste wilde veld As maat van die eerste Voortrekker-held. My werk is gedaan, dit is klaar met my - Ek dink aan die dae al lank verby. Vorige Volgende