Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XLV Dit is die einde! Wat het jy gewen? Verdriet van wat tevore joue was, Verdriet wat vreet soos yster heet met vuur Wat gloeiend in die vlees sy vyand ken. Dit is jou loon hier op die laaste uur, Dit jou vergoeding vir die sware las Hier op die einde - alles wat jy wen. Dit is die einde! Wat het jy behaal? Smart wat genadeloos jou siel verdruk En hoop op wat hiernamaals kom, verslaan. 'n Nuwe wêreld, grys verbleek en vaal, En Sodomsappels wat in as vergaan. Jy het gewerk, gehoop, gely, gebuk - En dit is alles wat jy nou behaal. Dit is die einde! Wat het jy gekry? Ellende, jammer, droefnis dag en nag, Met nou en dan 'n greintjie van plesier, Wat wegglip soos die skadu's oor die vlei, Waarmee geen mens 'n arwelfees kan vier. Vir al jou afgewerkte sielekrag - Dis alles op die einde wat jy kry. [pagina 211] [p. 211] Dit is die einde! Wat kan jy verwag? Dat wie jou hier geken het, sal vergeet Hoe klein jou siel in armoed hier moes krimp, Te suinig af te gee van al sy prag - 'n Sieltjie selfs te min om oor te skimp; Om stil te slaap; van niks meer iets te weet - Dit is die grootste wat jy kan verwag! Vorige Volgende