Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XLIV Susanna, waar die blare suis Sag deuntjies van die suidewind, Waar oor wit kieselsteentjies bruis Die witter water, daar, my kind, Hoor al wie ore het om te hoor, Of wie verstand het te verstaan, Wat water, wind of blaar in koor Wil sê voordat hul lied vergaan. Dis glad nie wat ons dink dit is, Soos pa praat of die predikant: Dis heel iets anders. Niemand gis Die waarheid op die ander kant. [pagina 210] [p. 210] Maar elke diertjie of goggatjie Dié het verstand, dié kan verstaan Wat water sing of wind; vir dié Praat albei eer hul stem vergaan. En jy, Susanna, as die wind Jou geel voshare streel, miskien Kan jy ook iets verstaan, my kind, En waar daar niks nie is, iets sien. Ek gee jou hierso vir vermaak Wat ek as kind gehoor het. Val Wat ek jou hier bring, in jou smaak, Dan is dit loon genoeg. Dis al. Neem wat ek gee, Susanna. Vra Nie waarom of hoekom nie. Droom Al slaap jy nie, en sê maar: ‘Ja, Ek doen dit net maar soos my oom Wat versies maak en vissies sien Waar glad geen water is nie. Hy Sê dáár is ander goed; miskien Is daar ook ander goed vir my.’ Vorige Volgende