Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 209] [p. 209] XLIII 'n Krans-omringde seekoegat Waar eendvoëls kom om skuil te soek, Met groot swart klippe waternat, En groen slymvlekke in elke hoek - Dit is haar woonplek. As die maan Die rand en rots met skyn kom streel, As al die sterre regop staan Om met die volmaan mee te speel, Dan kom sy uit die water op Met groen slym bo haar kop, Met diamante uit die waterryk, En 'n gordel van waterslyk. Haar ronde oë soos kristal, Kyk al die dieptes deur, En die suringblomme op die wal Strooi rondom haar hul geur. Dan gly sy oor die klippe daar Om groen en blomme te vergaar. Die klimop en krulkrans pluk sy af, Om 'n ruiker te maak vir haar watergraf, En sy soek langs die biesie-poltjiesry Om 'n waterhoendertjie-nes te kry. En eer die sterre afdraand gaan Agter die skyn van die volmaan aan, En eer die skemer-daglig spruit, En die vinke in die ruigte fluit, En die môrewind deur die biesies suis, Dan kruip sy terug na haar waterhuis - Die seekoegat-vrou, die waterwyf Met 'n groen slykgordel om haar lyf. Vorige Volgende