Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XXXIV Jy vra my: ‘Is jy dapper? En hoop jy nog te win, Hoe hoog ook styg die donker wolk, Hoe hard die taak is vir ons volk, Hoe klein die kans, die moed hoe min?’ Jy vra my: ‘Is jy dapper? En is dit na jou sin?’ Ek antwoord: ‘Nee, nie dapper! Ek is te sleg en swak; Ek weet die taak is alte groot; My hart is byna hoop-ontbloot; Ek dool op Moed-verloor se vlak.’ Ek antwoord: ‘Nee, nie dapper: Ek is al halfpad mak.’ Jy vra my: ‘Glo jy seker Dat God sal uitkoms gee? Ons het so baie hard geveg, En moed en hoop en krag is weg: Daar is geen hoop op uitkoms, nee!’ Jy vra my: ‘Glo jy seker Met oë blind van wee?’ Ek antwoord: ‘Skyn die sterre Vir altyd, dag en nag? Hoe kan jy ooit die son se skyn Bespeur as skemerlig verdwyn? Hoe kan jy ooit die daglig wag?’ Ek antwoord: ‘Man, die sterre Dié gee my nuwe krag.’ Ja, ek was op die vlakte Waar mense moed verloor: Daar het ek in my siel gebewe; Daar bitter, bitter smart deurlewe; Daar baie dinge aangehoor - Maar ek is uit die vlakte En bo sy skadu's oor! Vorige Volgende