Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 198] [p. 198] XX Grysaard, ek vra jou, Antwoord vir my! Waar lê die wysheid wat mense om kerm? Waar brand die groot lig waar siele om swerm? Wat is die rus, regtig werd om te kry? Grysaard, ek vra jou, Antwoord vir my! Kan jy my sê wie die waarheid vertel? Kan jy my sê wat is hemel en hel? Wat staan te wag aan die eind van die ry? Grysaard, jy weet nie! Antwoord gerus. Sê maar: ‘My lewe is amper verslyt; Tog weet ek niks nie daarvan, tot my spyt - Net maar: Ek selwe soek slaaptyd en rus.’ Grysaard, jy het dit: Slaaptyd en rus! Dit soek ons algar ons lewelank deur - Droomtyd en slaaptyd en tyd om te treur Oor al die stories waarmee ons ons sus. Vorige Volgende