Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XIX Hul sê die stryd is stryd verniet, Waar deug nóg plig nóg liefde tel, En haat en hoon die hoogste bied, En smart allengs tot skande swel - En dan vaarwel! Ná nagte hoop'loos swart en nat, Met donderweer en bliksemsteek, Met donker wat jou hand kan vat, En kou waarteen die skepping smeek - Die daglig breek! Vol rooi, wat bloed jaloers kan ja, Vol kleur van koper nuut-geboen, En purper soos die pronkpou dra, Oortrek met waas van perlemoen En donkergroen. Vir al wat hoop op uitkoms gee, Of seën, al skyn die dag verloor, Sê dank. Al druk 'n donker wee Die hele nasie oor en oor - Die son skyn voor! Vorige Volgende