Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XII Ek het 'n ster sien skiet: Hoog in die lug het hy begin, en laag, Vlak oor die koppies, kastig in die weiland, Het hy geëindig. Dit is nou my vraag: Wat is van hom geworde? Lê hy daar Nog rokerig en rasend in die riet, Of help sy lig wat dood is, te versier Die volle môre-glorie op die vleiland? Ek het 'n kind sien sterwe; Hy was nog jonk - 'n veelbelowend' seun, Wat tot 'n reus kon opgroei, slim, behendig, 'n Pêrel-patriot. Dis nou my kreun: Wat is van hom geworde? Lê hy hier, 'n Lyk met al sy hoop en goud bederwe, Of help sy korte loopbaan te versier Ons eie lewe, lekker of ellendig? Vorige Volgende