Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 194] [p. 194] XI As ek van verbeelding praat, Dan gaap my vrinde en gaan te keer; Hulle sê: ‘Daar's die ou gesanik weer, Van dwergies en sprokies; ons protesteer Teen die meet met so 'n onpraktiese maat.’ Ek weet ons hou van die boerdery, Van vee-teel, bankrot-speel, oorlog-maak; Dit val in ons hedendaagse smaak, Waar 'n man van sake oor sake waak En nooit met sy eie verbeelding baklei. As ek van verbeelding praat, Dan glo maar ek preek van 'n paradys Waarheen net 'n engel te perd kan reis, Want daar is geen gids wat die weg kan wys - En hoe vroeg jy opsaal, jy kom te laat. Vorige Volgende